Groot skroef los met dié knobbeltoon-operasie

0
225
Mita van Wyk FOTO: HEIDRE MALGAS

Jare nadat ‘n bejaarde vrou ‘n operasie ondergaan het om toonknobbels (bunions) te verwyder, het haar kleinseun ontdek dat daar ‘n skroef in haar voet agtergebly het.

Mita van Wyk (70), wat in ‘n ouetehuis in Heidedal woon, sê, “Ek het sedert 2010 ondraaglike pyn verduur nadat die operasie in die Nasionale hospitaal gedoen is, maar ek het dit nie veel kop toe gevat nie en gedink dit is net die nagevolge van die operasie en dat dit normaal is.”

Van Wyk was onbewus van die feit dat daar dalk iets anders kon fout wees met haar voet. Sy het aan Bloemfontein Courant gesê as haar kleinseun haar nie gevra het of sy gesien het dat sy ‘n “stukkie glas” in haar voet het nie, sy waarskynlik steeds met die pyn sou gesit het.

Die skroef wat in Van Wyk se voet gevind is FOTO: HEIDRE MALGAS

Sy het die Nasionale hospitaal besoek en ‘n klag gelê. Na bewering het die hospitaal niks aan die saak gedoen nie, hoewel sy na die Universitas Akademiese Hospitaal verwys is, waar ‘n operasie om die skroef te verwyder verlede maand uitgevoer is. Dit nege jaar na haar eerste operasie.

“Ek kon geen toe skoene en kouse dra nie, ek moes deur die koue winters met oop sandale loop. Die koue het die pyn vererger,” vertel sy.

Ná die operasie was die pyn byna onmiddellik weg.

Woordvoerder van die Departement van Gesondheid, Mondli Mvambi, sê dat hy onbewus was van die geval. Dit kon wees dat Van Wyk nie die regte prosedure gevolg het nie en dat daar nie ‘n formele klag by die regte mense ingedien is nie.

“Ons moedig altyd ons pasiënte aan om ‘n klag te lê en die nodige stappe te volg wanneer soiets gebeur. Ons het verlede week ‘n ‘World Patient Safety- campaign’ bekendstelling gehad om pasiënte bewus te maak van die stappe en reëls wat hulle moet volg as hulle mediese nalatigheid vermoed.

As mens so ‘n probleem ervaar, moet jy verskeie dokters besoek vir hul opinie en dan die hulp wat jy verdien, ontvang,” sê Mvambi. “Ons hoofdoel is om siek pasiënte gesond huis toe te stuur.”

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za