E Copy

Date:

Grey klop Paul Roos in ekstra tyd

Die jaarlikse stryd tussen twee vooraanstaande rugbyskole in Suid-Afrika, Grey-kollege en Paul Roos Gimnasium (Stellenbosch), het Saterdag op Grey se tuisveld ontwikkel in een van die opwindendste tweestryde sedert dié skole se eerste spanne mekaar dekades gelede die stryd begin aansê het.

Saterdag se wedstryd is gekenmerk deur harde, meedoënlose skolerugby. Albei spanne het egter ook heelwat foute begaan.

Grey het nie een keer sy neus voor gehad in die wedstryd nie; selfs nie toe die eindsirene afgegaan het nie. Maar, die Grey-manne het nie gaan lê nie en Grey-besit (ná die sirene) het die duisende toeskouers op hul voete gehad. Toe Grey uiteindelik, ná ‘n paar Paul Roos-foute, die wedstryd beklink het, was dit chaos, maar wat ‘n “lekker” chaos toe die tuisspan uiteindelik die wedstryd met 34 – 32 kon wen.

Grey was van meet af aan met die rug teen die muur en dit was duidelik dat hul ritme versteur is weens die afwesigheid van vier van hul sterre wat diens vir onderskeie SA skolespanne doen.

Paul Roos, wat in 2006 laas oorwinning op Grey se veld gesmaak het, het in die eerste helfte gelyk asof hulle vir ‘n tweede opeenvolgende jaar die span van die Rosestad gaan troef. Met drie drieë deur Paul Roos in die eerste helfte teenoor slegs een van Grey het die manne gaan rus met die telling op 19 – 10.

Grey se hoofseun, Mario Vieira, het Grey redelik binne trefafstand gehou met ‘n skepdoel in die eerste helfte.

Ná nege minute in die tweede helfte het Grey eerste bloed geruik danksy ‘n oorstootdrie deur die haker, Matthew Wessels. Sowat tien minute later het Paul Roos teruggeslaan toe hul skrumskakel, Tian Coetzee, om ‘n skrum gebreek en gaan druk het.

Die Paul Roos-losskakel, Joshua Vermeulen, het ná 23 minute in die tweede helfte ‘n strafskop deur die pale gejaag om vir die beskoekers ‘n 14 punt-voorsprong te gee. Dit het gelyk of die koeël deur die kerk was, maar Grey het aanvalle na links en regs bly loods. Paul Roos het goed verdedig, maar in die 27ste minuut het Jaco de Beer ‘n tikskop gewaag ná ‘n strafskop, wat op ‘n drie vir Grey uitgeloop het.

Vermeulen het weer met ‘n strafskop geslaag en die besoekers het ‘n 10 punt-buffer bewerkstellig met slegs 15 minute oor.

Wéér het Grey aangeval, links en regs, en ná puik hantering is die reserwe-heelagter, Christopher Schreuder, in die hoek oor met slegs 90 sekondes oor. Met die telling op 32 – 27 in Paul Roos se guns, was dit neusie verby vir Grey. Of só het almal gereken.

Maar watwou. Ná wat die laaste afskop sou wees, het Grey kliphard aangeval en so het Paul Roos se linkervleuel, David-Lee Moses, se nagmerrie begin. Die sirene om die einde van die wedstryd aan te dui het afgegaan, en met die bal in Moses se besit, besluit hy, teen die reëls, om die bal oor die kantlyn te slinger.

Grey is ‘n strafskop toegeken en die einste Moses moes so ‘n strafskop afstaan en ook ‘n geelkart verdien.

Ná ‘n stormram-beweging was dit Wihan Kloppers wat oor is vir ‘n Grey-drie in beseringstyd. Met die telling gelykop het Schreuder die bal deur die pale gejaag, wat vir Grey ‘n fantastiese sege beteken het. – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

Celebrate Human Rights Day at Oliewenhuis Art Museum in Bloemfontein

Oliewenhuis Art Museum invites the public to celebrate Human...

Boikhuco Old Age Home to host fundraising gala dinner in Mangaung

The Mangaung Society for the Care of the Aged...

Planned power interruptions in the city from 25-27 March

Residents from various areas in the Mangaung Metropolitan Municipality...

Making the most of your bonus this bonus season

While December is known for South Africa’s traditional 13th...