Emma Jacobs het verlede Saterdag (2 Mei) ses jaar oud geword en haar ouers moes, soos baie ander mense, aan nuwe idees dink om dit vir haar ’n spesiale dag te maak.
Hoewel sy ’n week voor haar verjaardag vir haar ma gesê dat sy glad nie bekommerd moet wees nie, as sy net ’n sjokoladetjie vir haar verjaardag kry, is dit ook oukei. Haar ouers, Elize en Jaco Jacobs, het toe besluit op ’n Jurassic Park-partytjie, behoorlik agter slot en grendel, met ’n duidelike waarskuwing dat toegang verbode is.

die Jurassic Park-partytjie geniet het.
Die “partytjie” was soveel pret dat haar ousus, Mia, wat Februarie agt geword het, hardop gewens het dat haar volgende verjaardag óók nog in die “lockdown”-tyd kan plaasvind. Elize vertel sy het vir Emma ’n dinosourusverjaardagkoek gebak en pa Jaco het vir die twee sussies ’n dinoskattejag met allerlei leidrade beplan. Hulle het vir haar ’n verjaardagtafel buite gedek met ’n verskeidenheid dino-lekkenye soos stegosourus-skubben(aartappelskyfi es), fossielslym (jellie met jellie-dinosourusse in), pterodaktielboudjies (hoenderboudjies met deeg), dino-eiers, moeraswater (groen koeldrank), pterodaktielpoef (sjokoladeballetjies) daarop uitgepak.
Elize het aan Bloemfontein Courant gesê dat die tema van die partytjie geïnspireer is deur Emma se voorliefde vir reptiele en dinosourusse. “Ons wou haar graag laat voel sy loop nie al die pret mis weens die grendeltyd nie, daarom het ons besluit om steeds vir haar ’n partytjie te hou en soveel moontlik moeite te doen om dit lekker te maak.”
Volgens haar is Emma ’n avontuurlustige, vrolike dogtertjie wat regtig met enige iets tevrede is en omdat hulle nie maats kon nooi nie, het hulle ’n digitale verjaardagkaartjie gemaak wat soos ’n noodberig lees om mense te laat weet die “park” is tans gesluit weens ’n gevaarlike uitbreking. In die uitnodiging is maatjies genooi om vir Emma video’s met verjaardagwense te stuur.
Dit was nogal ’n uitdaging is om geskenke en partytjiebenodigdhede in die grendeltyd te kry, maar gelukkig het sommige supermarkte ’n minder streng beleid oor speelgoedverkope gehad. Op die ou end was die “partytjie” ’n jolige aff êre met video’s van maats, ’n skattejag en heerlike dinosourus-eetgoed.
Sazly Hartzenberg
[email protected]







