Die Pink Project SA, ‘n nie-winsgewende organisasie, het ander nie-winsgewende organisasies en die gemeenskap gevra om hande te vat en saam te werk om Heidedal ‘n beter plek te maak.
‘n Vergadering is op 17 Februarie by die Dr Blok Sekondêre Skool gehou waar sewe organisasies, sowel as verskeie individue bymekaargekom het om koppe bymekaar te sit en aan oplossings te dink hoe om misdaad en dwelms te beveg.
“Die doel van die vergadering was om die mense van Heidedal bymekaar te bring en te verenig. Ons is ‘n groot diversiteit van mense met dieselfde standpunt, ons wil die gemeenskap bystaan en ondersteun en wys dat Heidedal die potensiaal het om te groei. Elke inwoner moet sy kant bring. Elke persoon wat die vergadering bygewoon het, het unieke vaardighede in onderwys, kuns en kultuur, kennis oor die wet en besigheid. Ons wil die gemeenskap betrek en die projekte een vir een aanpak. Ons is hier om die gemeenskap te dien,” sê advokaat Ruwaidah Henney, uitvoerende hoof en stigterslid van die Pink Project en ook 2017-Heidedaller van die Jaar.
Onderrig is sedert 2017 een van die Pink Project se topprioriteite. “Dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners hande vat en opstaan vir goeie gehalte en regverdige onderrig. Die is juis die rede hoekom die Pink Project die veldtog om bewusmaking onder ouers, leerders en onderwysers te skep, begin het.”
Heidedallers gaan steeds gebuk onder die hoë voorkoms van misdaad en dwelms. Volgens Crime Stats SA is daar meer as 4600 misdaadgevalle in Heidedal vir 2017 gerapporteer, waarvan 162 vir aanranding met die doel om te ernstig te beseer was, 261 vir aanranding, 152 vir skade aan eiendom, 178 vir huisinbrake, 121 vir diefstal uit motors, 272 vir dwelmmisdaad, 296 vir kommersiële misdaad, 190 vir winkeldiefstal, 2093 gemeenskapsaangemelde misdade, 30 verkragtingsake, 83 vir roof met verswarende omstandighede, 55 algemene roofsake en 83 sake van seksuele misdrywe.
Onder die verskeie mense wat betrokke is, is Hubert Barlow een van die mees invloedryke mense wat is Heidedal grootgeword het en ‘n groot impak op die gemeenskap gehad het. Hy het ondersteuning, advies en leiding aan baie inwoners verskaf. “Ons is vandag hier om te sien hoe ons die hele gemeenskap kan dien. Dit is belangrik om saam te werk en gefokus te bly,” sê Barlow.
Henney het elke organisasie en elke individu uitgedaag om hande te vat en saam te werk om lewens in Heidedal te verander.
“Kom ons werk saam en bied geleenthede vir ander. Ons het al meer as 200 mense gehelp om werk te kry van die begin van die Heidedal Unemployment Forum se ontstaan,” sê Benji Williams van Second Chance en die Heidedal Unemployment Forum.
Organisasies wat deel gevorm het van die vergadering, sluit Sisterhood, Heidedal Unemployment Forum, Heidedal Chess Foundation, Second Chance en Just Faith Productions in.
JERETHA OOSTHUIZEN
[email protected]







