
Wat seker as een van die gewildste kleuterskole in die Rosestad bekend stand, roep na 39 jaar sy skoolhoof vaarwel toe.
Annelie Schleckter, wat in Junie 1978 as jong proefstudent by Tinktinkieland se voordeur ingestap het, sal op 12 Desember 2018 finaal by die deure van dié geliefde skooltjie uitstap.
Die 92 kleuterleerders, ouers en oud-Tinkies het gister by die skool bymekaargekom om hul geliefde hoof te groet deur vir haar ‘n erewag te vorm en haar te groet met ‘n blommetjie, ballon of ‘n veertjie.
“Ek het glad nie soiets verwag nie. Dit was nou regtig spesiaal en hulle het die wind in my seile gehaal,” het sy opgewonde gesê.
Sy vertel dat sy nooit in 1978 geweet het dat Tinktinkieland die plek sou wees waar sy sou bydra tot die opvoeding van kinders nie. “My pad het op 1 Janurie 1979 by Tinktinkieland begin en vir die afgelope 20 jaar was ek kaptein van die skip.”
Sy vertel dat haar hart graag wil hê dat sy nog ‘n bietjie langer bly, maar haar kop sê vir haar dat dit nou tyd is om te gaan.

“Van my mooiste herinneringe aan die skool is om te weet ons het ‘n verskil in ‘n kind se lewe gemaak. Jaar na jaar het ons gesien hoe die kinders in selfvertroue groei. Families met twee of meer kinders het almal jaar na jaar hul kinders na Tinktinkieland gestuur. Die ouers is ook natuurlik mense wat ‘n groot impak op die skool gemaak het en gelei het tot die skool se sukses. My personeel is my regterhand en sonder hulle sou die skool nie so suksesvol gewees het nie,” het sy gesê.
Sy maak dit duidelik dat die skool nie heeltemal van haar ontslae gaan wees nie en dat sy beslis nou en dan gaan inloer. Su het ook die nuwe skoolhoof, Zendre Corbett, baie sterkte toegewens.
Sy het almal bedank vir die wonderlike jare by die skool. “Dankie vir julle vriendelikheid, hulp en ondersteuning, julle liefde en groot bederfies. Dit was vir my so spesiaal. Tinktinkieland sal altyd daardie spesiale plekkie in my hart hê wat dit verdien.”