Die Oorlogsmuseum in Bloemfontein het op Saterdag, 20 September, die Free State Uncovered-geleentheid aangebied, wat toerisme, kultuur en erfenis in die Vrystaat in die kollig geplaas het. Die dag is gereël deur die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Departement Toerisme in samewerking met die Oorlogsmuseum.
Die geleentheid is uitstekend ondersteun, met uitstallers van regoor die provinsie sowel as die publiek wat in groot getalle opgedaag het. “Dit was wonderlik om te sien hoe minstens 140 uitstallers die dag bygewoon het en die beste Vrystaat-produkte ten toon gestel het,” vertel dr. Eben Proos van die SUT se Departement Toerisme.
Ongeveer 2 000 besoekers het die dag se program geniet. “Daar is vele hoogtepunte op die dag gewees, maar ek dink wat uitstaan was weereens die Vrystaat se gasvryheid en hoe die gemeenskap van die Vrystaat bymekaar gekom het om die dag ’n sukses te maak,” sê Proos. “En natuurlik die ‘night at the museum’, wat baie goed bygewoon was.”
Die terugvoer oor die geleentheid was oorwegend positief. Uitstallers het benadruk dat dit een van hul beste dae was in terme van verkope, terwyl besoekers opgemerk het dat hulle verbaas was oor die wye verskeidenheid wat Free State Uncovered en die provinsie se toerismesektor bied. “Die organiseerders is ook baie gelukkig met hoe die dag verloop het,” is daar bevestig.
“Uit ’n toerisme-oogpunt was die geleentheid van onskatbare belang in die sin dat produk-eienaars in die Vrystaat nou meer blootstelling ontvang het en hulle mede-rolspelers beter kon leer ken,” verduidelik Proos verder.
Na die sukses van Free State Uncovered in 2025 beplan die organiseerders nou om saam te sit en die toekoms van die projek te bespreek.
Warren Hawkins
[email protected]

















