FOTO’s: Oop mangate ‘n groot gevaar

0
1007

OWEN KOCK

Hulle is ‘gatvol’ oftewel keelvol verby en daarby het hulle nog nie eens al die mangate sonder deksels in die woonbuurte wat hulle bedien, getel nie.

Dit is hoe AfriForum Buurtwag, wat Wilgehof, Gardeniapark, Universitas en Parkwes bedien, voel. In Wilgehof en Gardeniapark is daar nie minder nie as 73 mangate sonder deksels.

Die buurtwag is nou sowat vier maande op die been en is gestig met die hulp van AfriForum. Van alle lede (meer as 100) wat maandeliks betaal, bly 50% van die geld in die buurtwag en die ander helfte gaan aan AfriForum Nasionaal om te help wanneer dit kom by byvoorbeeld hofsake wat betaal moet word.

Van die (oop) mangate word ook deur kriminele gebruik vir ‘n vinnige wegkom, want, soos die voorsitter van die buurtwag, Chris Lennox, verduidelik, kan ‘n mens regop loop indien jy in sommige van die mangate val (of inspring as dit moet). Dit is deel van die stad se stormwater- en rioolstelsel.

Courant
het Maandagoggend onder meer die strate Bramley, James Dick, Gerhardus du Toit, Roselaan, Hugenoot en George Home besoek. In die middel van sommige van die strate en sypaadjies is oop mangate, soveel so dat die buurtwag nou riete bo-oor staanmaak in ’n poging om niksvermoedende motoriste en voetgangers erge verdriet te spaar.

In Bramleystraat is na bewering reeds vyf motors beskadig weens oop mangate en volgens Lennox, Natasjha Blom
(ondervoorsitter) en Danie Bloem (veiligheidsbeampte), voel dit vir hulle asof hulle teen ’n muur vaspraat as dit by die Mangaung-metro aangemeld word.

“Die gemeenskap kom bymekaar en help self. Vullis word deur middel van ’n “connection” weggery, anders
hoop dit op,” laat Lennox val. Hulle is wel opgewonde oor die metro se projek “Adopt a Park”, waar die gemeenskap parke kan “aanneem” en dit dan versorg.

Hulle is juis besig om twee parke in Wilgehof op te knap. “Dit gaan vir ons oor veiligheid, niks anders nie. Ons kan nie langer toesien dat ons gemeenskappe ten gronde gaan nie. Sedert die buurtwag op die been is, is misdaad minder, maar die oop mangate bly ’n kopseer,” aldus Lennox.

Baie van die skade word op eie koste deur die buurtwag herstel, want hulle meen niemand wil verantwoordelikheid vir die
probleem (oop mangate) neem nie.

“Daar’s te veel kontrakteurs by die munisipaliteit. Vir elke ding wat gedoen moet word is daar ’n kontrakteur, maar jy sien hulle nooit,” voeg Blom by. Lennox en Blom het onlangs self helder oordag twee misdadigers aangekeer danksy die werksaamhede van die buurtwag.

“Toe die polisie by ons kom, kom hulle agter dit is twee wat juis gesoek word vir onder meer huisbraak en verkragting. Ons werk goed saam met die SAPD. Ons het kontak met hul beheerkamer en dit help baie,” vertel Lennox.

Hy sê gemeenskappe kan nie meer staatmaak op die infrastruktuur wat in plek is nie, daarom vat hulle hande om te help sover hulle kan. Die buurtwag se volgende projek is om armlastiges te help. Op die oomblik is hul grootste kopseer die oop mangate.

owen@centralmediagroup.co.za