Suid-Afrika se huidige elite-vroue driekampkampioen, Carlyn Fischer, het Saterdag op Maselspoort buite Bloemfontein tydens die Vrystaat-driekampkampioenskap gewys dat sy nie met kaal hande aangedurf moet word in diƩ sportsoort waarin sy reeds internasionale bekendheid verwerf het nie.
Fischer, wat steeds in die elite-vroue afdeling meeding, het die naaste lid van die skoner geslag wat op Maselspoort opgedaag het, met bykans ‘n halfuur afgeslag. Sy het algehele oorwinning onder die vroue gesmaak in die wedloop wat 1,5 km-swem, 40 km-fietsry en 10 km-hardloop behels, en dit in ‘n goeie tyd van 2:23:30 afgelĆŖ.
Wat aan haar oorwinning nóg meer aansien verleen, is dat Fischer van begin November ‘n voltydse werk as prokureursklerk in Bloemfontein aanvaar het en nie meer soveel tyd op hande het vir oefen soos toe sy ‘n student was en ook vir ‘n ruk voltyds aan driekamp deelgeneem het nie.
Sy het vir Courant gesĆŖ: “Dit is baie moeilik om driekamp op die hoogste vlak te beoefen as jy voltyds werk, want om met die voorste internasionale atlete mee te ding, moet jy daagliks oefen Ć©n sowat vier tot ses ure se oefening insit. Maar, ek gaan steeds voortgaan en my bes doen in my werk asook in driekamp. Dit gaan egter goeie tydsbestuur verg.”
Fischer het die tweede vrou en wenner in die afdeling 35 tot 39 jaar, Helena van Niekerk (2:53:27) ver agterweƫ gelaat. Comien van Zyl, wat die afdeling vir vroue 30 tot 35 jaar gewen het, het algeheel derde geƫindig.
Gideon Benade het onder die manne die septer geswaai. Benade (onder 23), wat eerste oor die eindstreep in 2:18:10 gehardloop het, was bykans twee minute voor die tweede mansatleet, Jaco Ebersohn. Laasgenoemde se tweede plek het hom egter oorwinning in die afdeling vir mans 25 tot 29 jaar laat smaak.
Willie Coetzer, wat in dieselfde afdeling as Ebersohn meegeding het, was algeheel derde in 2:21:10.
In die langafstandwedloop, wat nie oor standaarddriekampafstande beslis word nie en as goeie voorbereiding dien vir die bekende “half-ironman”-wedren wat eersdaags beslis word, het was Theuns de Bruin algeheel eerste. Atlete moes hier 1,9 km swem-, 60 km-fietsry en 15 km-hardloopskofte aandurf.
De Bruin het 3:26:30 aangeteken, maar was vir seker bewus van die vrouewenner, Jayme-Sue Vermaas, se teenwoordigheid.
Vermaas het ‘n moeilike wedloop beleef, maar steeds in ‘n goeie tyd van 3:31:42 geseĆ«vier.
Dit is interessant dat Carlyn Fischer se ma, Lynette, in die einste langafstandwedloop die afdeling vir vroue 60 tot 64 jaar gewen het. Sy het 4:10:20 op die uitslagkaart ingevul. Boonop het Vermaas se pa, Adri, in dieselfde wedloop die hoogste trappie van die podium bestyg deur die afdeling vir mans 55 tot 59 jaar te wen. Sy tyd was 3:44:58, sowat 13 minute stadiger as sy dogter, Jayme, se wentyd. – RUFUS BOTHA







