In een van my kollegas se tuin staan ’n groot ou akkerboom. Die boom laat my elke jaar aan Stellenbosch en die strate met sy leivore dink. Ek het ook eenmaal ’n foto gesien met ’n ou akkerboom daarop. Die akkerboom het drie kennisgewings teen sy stam gehad. Die boonste een het gelees:
“Geen toegang”, die middelste een: “Geen jag” en die derde een: “Alles verbode”. Mense het verskillend hierop gereageer, maar die meeste het so heftig geraak dat hulle hulle misnoeë daamee gewys het deur die motor se toeter te blaas. Dit was net te veel en te erg, en dan nog die laaste woorde: “Alles verbode.” Die Bybel kan ook deur sommige mense as ’n boek van moets en moenies hanteer word. Dit maak gewoonlik mense ongelukkig, gefrustreerd en kwaad. Tog is dit ’n boek van liefde en genade en van lewe. Paulus beskryf dit dat ons “vrygemaak is van die wet”, maar dat ons met verantwoordelikheid moet leef. Hy beklemtoon die feit dat ons almal maar stukkende mense is en dat slegs God se genade ons vryspreek, volgens Romeine 3:23-26. Dit is juis Romeine wat Martin Luther oortuig het van God se genade en omgee.
Ds. Stephan van Heerden
* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale terapeut.







