Deel hierdie Kersfees rooi liefdesdruppels uit

0
797

Dis alweer daardie tyd van die jaar! Feestelike versierings in alle kleure, vorms en groottes is alreeds te siene in inkopiesentrums, by die werk en in baie Suid-Afrikaanse huise.

Gedurende hierdie tyd van die jaar herinner ons graag ons geliefdes aan die besondere plek wat hulle in ons lewens beklee en ons geskenke aan hulle beeld hierdie liefde op ‘n tasbare manier uit.

Vanjaar moedig die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) mense aan om 'n ongewone maar kosbare geskenk aan 'n vreemdeling te gee – bloed.

Ons weet dat baie mense hierdie feesseisoen dwarsoor die land sal reis om familie te besoek of om see toe te gaan vir ’n welverdiende blaaskans na 'n jaar van harde werk. Die verhoogde verkeersdruk op ons paaie verhoog uiteraard die moontlikheid van ongelukke wat in baie gevalle noodlottig kan wees.

Meer as 1 300 kinders en volwassenes is dood in die 1 118 ongelukke wat verlede jaar aangemeld is – ‘n daling van 0.6 persent vanaf 2013.

“Hoewel ons verheug is dat die aantal noodlottige padongelukke gedaal het, bly ons besorg oor die aantal lewens wat verloor is gedurende ‘n tyd wat die lewe eintlik gevier moet word,” aldus Thapelo Mokoena, die hoof bemarkingsbeampte van die SANBS.

Die bloeddiens gaan poog om ongeveer 3 000 eenhede bloed by tydelike en vaste insamelpunte in agt provinsies in te samel ten einde in die vraag na hierdie kosbare kleinood te voldoen.

Dikwels benodig die slagoffer van ‘n ongeluk net één eenheid bloed om sy of haar lewe te red, en daarom moedig die SANBS alle Suid-Afrikaners aan om by hierdie besondere netwerk van lewensredders aan te sluit.  

“Die SANBS is geëerd om reeds duisende skenkers te hê wat hul tyd opoffer om bloed te skenk en sodoende ‘n vreemdelíng 'n tweede kans te bied om 'n volgende Kersfees te geniet. Ons moedig mense aan wat nog nie daaraan gedink het om bloed te skenk nie om asseblief hul naaste skenksentrum gedurende hierdie feesseisoen te besoek. Julle is lewensredders en ons kan nie sonder julle klaarkom nie," sê Mokoena.

Enigiemand wat enige vrae het of wat besorg is oor die skenk van bloed word aangemoedig om een van die oortappingsentra te besoek, of om die tolvrye hulplyn te skakel by 0800 11 9031. Skenkers kan ook met ons in verbinding tree deur middel van die SANBS-webwerf en die onderskeie  sosialemediaplatforms.

 

-Verklaring