Cronjé twaalfde in rillerwedloop

0
604
RUFUS BOTHA

Bloemfontein – Die 32-jarige Kovsie en die land se vinnigste 1500 m-atleet van alle tye, Johan Cronjé, het Vrydagaand by die IAAF Diamantliga-atletiekbyeenkoms in Monaco met van die voorste 1500m-atlete van alle tye in die wêreld koppe gestamp. En dié manne het nie gespeel nie. Inteendeel, hierdie wedloop sal sekerlik onthou word as die beste ooit oor dié afstand. Nie minder nie as sewe atlete het deur die magiese grens van 3:30,00 gebreek.

Cronjé het twaalfde geëindig in ‘n verdienstelike 3:33,69, maar hy was nie gelukkig met sy vertoning nie. Hy het ná die wedloop nie doekies omgedraai nie en op Facebook gesê dat dit sy teleurstellendste wedloop was sedert die wêreldkampioenskap in Berlyn in 2009. Hy is in Berlyn in die uitdunrondes uitgeskakel met ‘n tyd van 3:46,45.

Cronjé het uit Monaco aan Bloemfontein Courant gesê: "Ek weet ek is fiks, maar dit wys nie in my wedlope nie. Ek hoop die skerpmaaksessies vorentoe gaan help", het hy bygevoeg.

Die Monaco-wedloop is deur die Keniaan, Silas Kiplagat, in ‘n verbysterende 3:27,64 gewen. Dit maak van hom die vierde vinnigste 1500m-atleet ooit in die wêreld en sy wentyd was boonop die vinnigste in die wêreld in 2014 én ‘n Diamantliga-rekord.

Hy is gevolg deur sy landgenote, Asbel Kiprop (3:28,45) en Ronald Kwemoi (3:28,81). Kwemoi het in die proses die junior wêreldrekord agter sy naam geskryf. Buiten genoemde drie atlete het die vierde tot tiende plek-atlete tussen hulle drie nasionale rekords oortref en drie van hulle die beste tye van hulle loopbane vermag.

Om die bykans ongelooflike wedloop te onderstreep – die tiende atleet, Henrik Ingebrigtsen (3:31,46) het sy land (Noorweë) se nasionale rekord verbeter en dit is vinniger as die Suid-Afrikaanse rekord (3:31,93) wat Cronjé verlede jaar opgestel het.