Cheetahs wil 2019 op ‘n hoë noot afsluit

0
318
William Small-Smith FOTO: HUW EVANS AGENCY

The Toyota Cheetahs is desperaat om die kalenderjaar op ‘n hoë noot af te sluit wanneer hulle Saterdagaand in Neath teen die Ospreys te staan kom vir die sewende ronde van die Guinness PRO14-reeks.

Die Cheetahs het Woensdag na Wallis vertrek vir dié kragmeting. Dit sal hul heel laaste wedstryd wees vir ‘n ongelooflik besige 2019.

Hoewel die Cheetahs slegs in die sewende ronde van die Europese kompetsie sal meeding, het hulle al vir die afgelope 16 weke saam gespeel. Dit is te danke aan ‘n strawwe voorseisoen voor die Curriebeker en ook die begin van die PRO14.

Die Cheetahs is tans derde op die punteleer in Konferensie A van die PRO14, ná drie tuisoorwinnings asook drie nederlae oorsee teen Connacht in Galway, Scarlets in Llanelli en die Cardiff Blues in die Walliese hoofstad.

Die onlangse toer na Ierland en Wallis het nou wel nie verloop soos die breier, Hawies Fourie, en die span wou gehad het nie, hoewel dit hul mees suksesvolle toer tot op datum was.

In die verlede is die span pakslae gegee deur selfs van hul teenstanders wat nie die sterkste is nie. Hulle was egter onlangs ongelukkig om net-net teen albei Connacht en Scarlets vas te val, terwyl ‘n vroeë rooikaart hulle teen Cardiff gekelder het.

Uit die aard van die saak moet die Cheetahs vandeesweek seëvier teen die Ospreys, wat sesde lê in Konferensie A, met slegs een oorwinning in hul ses wedsryde tot dusver. Boonop het hulle met 16-14 in hul laaste PRO14-wedstryd teen die Southern Kings van die Baai vasgeval.

Om sake vir die Walliesers erger te maak, moes hulle Dinsdag ook hoor dat hul breier, Allan Clarke, in die pad gesteek is, slegs dae voor die kragmeting teen die Cheetahs. ‘n Week voor dit het die agterlynafrigter, Matt Sherratt, ook nog bevestig dat hy die span sal verlaat na afloop van hul huidige veldtog, moontlik om by die Skotse nasionale span aan te sluit.

Die voormalige Ierse internasionale haker, Clarke, was die voorspeler-afrigter by Ulster voordat hy dieselfde rol by die Ospreys vervul het. Toe Steve Tandy sowat 18 maande gelede in die pad gesteek is, het Clarke eers as die tussentydse afrigter gedien voordat hy op ‘n drie-jaar-kontrak as die hoofafrigter aangestel is.

Dit is die ideale geleentheid vir die Cheetahs om die Walliese klub ‘hard te skop’ terwyl hulle op die grond lê.

Die veelsydige agterlynspeler, William Small-Smith, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle die jaar goed wil afsluit voordat hulle ‘n welverdiende vakansie geniet.

“Na die Cardiff-wedstryd het ons die volgende oggend om 08:30 op die bus geklim om lughawe toe vertrek. Dan begin jou vlugte. Cardiff na Dublin, Dublin na Istanbul – in Istanbul wag jy vir vier ure – daarna na Johannesburg, in Johannesburg vir ses uur en daarna van Johannesburg na Bloemfontein. Jy kom eers Maandagaand hier en in daai tyd speel die wedstryd oor en oor in jou kop. Dan is jy vir twee weke weg van die speelveld en is dieselfde wedstryd is nog steeds op jou kop.

“Na die wedstryd teen die Ospreys speel ons eers weer op 4 Januarie, so dit sal wonderlik wees om daarheen te gaan, ‘n goeie vertoning te lewer, ‘n oorwinning huis toe te bring en dan die nodige rus te neem.

“Soos die afrigter, Corniel van Zyl, gesê het, is die afgelope sestien weke gelyk met SuperRugby. Dit is hoeveel rugby ons gespeel het. Al is daar driekwart van die seisoen oor, het die ouens regtig ‘n Desember-breek nodig. Dit sal moeilik wees om op vier-week-breek te gaan met die wete dat ons nie ons beste gegee het nie. Ons wil oorgaan, met ‘n goeie hart terugkom en dan ‘n goeie blaaskans neem.”

Die Ospreys en Cheetahs stamp Saterdagaand om 21:35 koppe op die Gnoll in Neath. – MORGAN PIEK