Bfn-gemeente kry eerste vroueleraar

0
756
Nuwe leraar van die Metodistekerk, Sarah van Wyk. FOTO: HEIDRE MALGAS

Om die heel eerste leraar van ‘n groot gemeente te wees, kan nogal aan die senuwees knaag, maar dit kan selfs erger wees wanneer jy die heel eerste vrou is wat hierdie pos beklee. Sarah van Wyk het alle uitdagings aanvaar en die spel verander toe sy die heel eerste vroulike leraar in die Metodistekerk in Heidedal geword het.

Van Wyk vertel aan Bloemfontein Courant dat sy eers net ‘n plaaslike prediker was. Dit het beteken dat sy nie nagmaal aan die gemeente kon bedien nie. Dit was haar groot begeerte om saam met haar gemeente dié geleentheid te deel.

Sy het toe vir drie jaar teologie studeer aan die Seth Mokinimi Metodiste-kweekskool in Pietermaritzburg en toe volwaardig gekwalifiseer as predikant. Op die vraag waarom sy dit haar roeping gemaak het, vertel Van Wyk, “Ons het ‘n tekort aan vrouepredikante en baie vroue vind dit moeilik om hul hart oop te maak vir ‘n man.

Dit is makliker vir ‘n vrou om met ‘n ander vrou te praat. Ons kan dalk deur dieselfde dinge gaan en mekaar sonder om te oordeel, beter verstaan.” Dit was en is steeds haar passie om mense te bedien met die Woord.

Van Wyk gaan volgende jaar met haar prakties begin en van 20 Desember af preek as die nuwe leraar van die Metodistekerk in Heidedal. Sy wil meer betrokke raak by die jeug, veral met die seuns, want die jeug is die toekoms. “Ek wil die seuns leer dat ons almal gelyk is, ongeag ons geslag. Ons is geskape na die beeld van God.

Ons almal het die ideaal om ‘n verskil te maak in die wêreld. Ek wil hulle ook leer om nie vroue te minag nie,” voeg sy by. Sy eindig met die woorde, “Alles is moontlik. As jy glo, kan jy met God as jou fokuspunt enige doelwit bereik,” en dit is presies wat sy gedoen het toe haar drome vir haar waar geword het.

Van Wyk reis volgende jaar om haar prakties te voltooi by verskillende Metodistekerke in Kaapstad, Malmesbury, en die Cape of Good Hope-disrik.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za