E Copy

Date:

Cheetahs pak die Sharks in Bloem

Die Toyota Cheetahs sal tydens die Europese Uitdaagreeks die geleentheid gegun word om in Bloemfontein voor hul tuisskare te speel.

Verlede week is die bepalings vir die Eurpose reeks bekend gemaak en die Cheetahs sal ’n wedstryd tuis speel. Dit sal egter ’n geskiedkundige kragmeting wees aangesien dit die heel eerste Suid-Afrikaanse buurstryd in die reeks is, wanneer kragte met die Sharks op 17 Desember gemeet sal word. Dié wedstryd sal in rondte twee van die kompetisie wees en sal ook die span se laaste wedstryd wees voordat hulle oor Kerstyd rus.

Die Cheetahs se veldtog sal wel in Italië van stapel gestuur word wanneer hulle tydens die openingsrondte van die toernooi op 9 Desember in teen Zebre in Parma te staan sal kom. Die Italiaanse span wat in die Verenigde Rugbykamioenskap speel, het ’n Vrystaater wat vir hulle speel in die posisie van senter, naamlik Franco Smith Junior, die oudste seun van die voormalige Cheetahs-afrigter en Springbok-losskakel, Franco Smith.

Rondte twee vir die Cheetahs is in die Rosestad teen die Sharks, en dit sal interessant wees om te sien of die flank George Cronjé en die losskakel, Siya Masuku, teen die Vrystaat ingespan word. Dié twee het in die Curriebeker-eindstryd gespeel, en hul oranje truie vir swart truie verruil.

Vroeg in die nuwe jaar sal die Cheetahs vir die eerste keer na Nederland reis waar hulle ’n hul tweede “tuiswedstryd” sal speel wanneer hulle koppe stamp met die Franse Top14-span, Section Paloise. Die Cheetahs het verlede seisoen twee keer die Franse span gespeel in Pau en Parma.

Die span se laaste wedstryd in die rondomtalierondte sal teen nog ’n Franse span wees, Oyonnax, met die wedstryd wat by Stade Charles-Mathon in Oyonnax sal plaasvind.

Intussen sal die Cheetahs aanstaande week begin slyp vir die Europese Uitdaagbeker met hul voorseisoen wat van stapel gestuur sal word. Die span sal voorberei vir hul terugkeer na Europa, sowel, as vier wedstryde teen die Australiese Super Rugby-span, die Western Force. Twee wedstryde sal in Bloemfontein gespeel word, met die ander twee in Perth.

Die slot, Carl Wegner, wat aanstaande week weer by die Cheetahs sal aanmeld nadat hy vir Benetton in Italië gespeel het, het aan Bloemfontein Courant gesê hy verwag dat die Cheetahs goed sal vaar in die nuwe seisoen.

“Ek is baie opgewonde om weer by die Cheetahs aan te sluit en om terug te wees met die ou-nuwe gesigte, as ek dit so kan stel,” het die strydros gesê.

“Daar is ’n klomp bekende gesigte asook ‘n paar nuwe gesigte, maar almal het my welkom laat voel en sover kom almal my tegemoet.

“Ek is baie opgewonde om terug te wees, veral met so ’n jong groep spelers met so baie ondervinding. Die ondervinding wat hulle opgedoen het in die Europese Uitdaagreeks en om die Curriebeker te wen is iets wat nooit weggeneem kan word van dié span nie.”

Die bepalings vir die wedstryde tussen die Cheetahs en Force moet nog bekend gemaak word, maar die kragmetings sal teen die einde van Augustus begin. – MORGAN PIEK

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...