Cheetahs is slaggereed

0
751
Die woelige Toyota Cheetahs-losvoorspeler, Jasper Wiese, met 'n stormlopie teen die Griquas. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs is slaggereed om vandeesweek ‘n terugkeer tot die speelveld te maak wanneer hulle Saterdag in Bloemfontein in die eerste ronde van die Super Ruby Unlocked-reeks teen die Poemas te staan kom.

Die Cheetahs het oor die afgelope twee weke twee keer teen die Griekwas in oefenwedstryde in Kimberley en in die Rosestad gespeel.

In dié twee kragmetings het die Cheetahs met 40-7 en 31-21 geseëvier, maar hulle is die eerste om te erken dat hulle baie op daardie vertonings kan verbeter.

Dissipline by die afbreekpunt en om geleenthede in punte te omskep, sal die Cheetahs se voorland moet wees.

Die Cheetahs moes wel in die tweede wedstryde sonder baie van hul sterre klaarkom, aangesien Luan de Bruin, Frans Steyn, Rosko Specman, Malcolm Jaer en Junior Pokomela in die Springbok Showdown in Kaapstad meegeding het. Die Springbok-flank, Oupa Mohoje, sou ook in die wedstryd gespeel het, maar is moes onttrek nadat hy positief getoets het vir Covid-19. Die span verwelkom meeste van bogenoemde spelers terug vir die wedstryd teen die Poemas, hoewel hulle die verlies voel van Jaer, wat in die Moederstad ‘n kniebesering opgedoen het.

Kaptein Ruan Pienaar het aan Bloemfontein Courant gesê dat daar groot opwinding in die span heers. “Ek dink almal in Suid-Afrika is net opgewonde om weer aan die gang te kom. Al die spanne wil net doen waarvoor hulle lief is. Dit is goed om Frans (Steyn), Luan (De Bruin) en al die ander ouens wat in Kaapstad gespeel het, weer terug te hê. Hulle het natuurlik ‘n baie goeie tyd daar gehad en baie dinge geleer in die Springbok-opset.

“Om hierdie ervaring weer terug te hê en waarde toe te voeg tot die span, is uiters belangrik. Ons sal teen ‘n baie goeie Poemas-span, wat groot en fisiek is, speel, so ons sal moet reg wees daarvoor.”

Saterdag se wedstryd tussen die Cheetahs en die Poemas op die Toyota-stadion skop om 16:30 af. Weens die streng Covid-19-maatreëls sal geen toeskouers toegelaat word nie.

Cheetahs-speelgroep: Aranos Coetzee, Luan de Bruin, Erich de Jager, Charles Marais, Marnus van der Merwe, Boan Venter, George Cronjé, Wilmar Arnoldi, Cameron Dawson, Jacques du Toit, Chucky van der Westhuizen, Reinach Venter, JP du Preez, Carl Wegner, Oupa Mohoje, Walt Steenkamp, Reniel Hugo, Andisa Ntsila, Chris Massyn, Aidon Davis, Junior Pokomela, Jasper Wiese, Ruben de Haas, Rewan Kruger, Tian Meyer, Reinhardt Fortuin, Ruan Pienaar (kaptein), Tian Schoeman, Benhard Janse van Rensburg, Howard Mnisi, Chris Smit, Frans Steyn, William Small-Smith, Dries Swanepoel, Carel-Jan Coetzee, Adriaan Carelse, Duncan Saal, Rosko Specman, Craig Barry, Clayton Blommetjies, Malcolm Jaer, Tapiwa Mafura, Rhyno Smith. – MORGAN PIEK