Die Toyota Cheetahs het vandeesweek amptelik vier nuwe spelers bekendgestel, terwyl nog 12 ervare spelers hul kontrakte met dié franchise verleng het.
Die span is hard aan die werk in hul voorseisoen vir die 2022-Curriebekerreeks wat na alle aanduiding op 15 Januarie sal afskop. Die Cheetahs is ook besig om ‘n toernooi van stapel te stuur wat hulle sal gebruik om te skaaf vir die Curriebeker. Die toernooi sal waarskynlik twee oorsese spanne insluit asook die Haaie of die Leeus.
Drie van dié nuwe spelers, Gideon van der Merwe (flank), Daniel Kasende (vleuel) en Marné Coetzee (vaskopstut) is reeds in Bloemfontein en oefen al saam bet die Cheetahs. Die vierde speller, Mox Mxoli (loskopstut), sal eers op 1 November by die span aanmeld.
Coetzee, wat voorheen vir die Poemas in Nelspruit uitgedraf het, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy na die nuwe hoofstuk van sy rugbyloopbaan uitsien.
“Ek geniet Bloemfontein. Ek moet sê dat die afrigter, Hawies Fourie, en die span my met warm harte verwelkom het. Hulle het my tuis laat voel nadat ek die beste deel van sewe jaar by die Poemas deurgebring het.
“Dit was nie ‘n maklike besluit nie, maar ek is baie bevoorreg dat ek die geleentheid hier gekry het en ek wil ‘n verskil hier by die Cheetahs maak.”
Die opwindende senter, Evardi Boshoff, is een van die 12 spelers wat hul kontrakte met die Cheetahs verleng het. Die uitblinker vir die Universiteit van Kaapstad Ikeys in die Varsitybeker vanjaar, was op ‘n korttermyn-kontrak van ‘n paar maande, wat aan die einde van Oktober sou verstryk. Boshoff het sy kontrak by die span tot aan die einde van Junie 2023 verleng, en het op sy beurt aan Bloemfontein Courant gesê dat hy optomisties is oor die toekoms van Cheetahs-rugby.
“Ek was verheug toe afrigter Hawies my gevra het om my kontrak te verleng. Ek het geteken tot Junie 2023, wat lank is en dit is lekker. Ek sien daarna uit om in Bloemfontein te bly, want ek het my tyd hier geniet. Ek is baie bly en dankbaar daarvoor.
“Dan sien ek uit na die Curriebeker. Ons het voorbereidingswedstryde daarvoor met die Toyota-beker wat in November begin. Dit sal ‘n goeie voorbereiding vir die Curriebeker wees, en ons wil ‘n ook bietjie speeltyd geniet. Ek wou graag in die Europese Uitdaagbeker speel, maar ongelukkig kon ons dit nie vanjaar regkry nie. Hopelik kan ons volgende jaar in die Uitdaagbeker speel.
“Maar nou sien ons uit na die Curriebeker. Dit sal goed wees om weer teen die groter spanne te speel, alhoewel ek nie weet of dit hulle al hul beste spelers sal gebruik nie, maar ek dink dat ons iets sal hê om te bewys. ”
Die ander spelers wat hulle kontrakte met die span verleng het, is Alulutho Tshakweni (stut), Cameron Dawson (stut), Wilmar Arnoldi (haker), Louis van der Westhuizen (haker), Janus Venter (haker), Aranos Coetzee (stut), Beertjie van Vuuren (stut), Rynier Bernardo (slot), Siya Masuku (senter/ losskakel), Clayton Blommetjies (heelafter) and Malcolm Jaer (vleuel/ heelagter). – MORGAN PIEK







