E Copy

Date:

Cheetahs benoem vir drie eerbewyse

Die Toyota Cheetahs is vir drie eerbewyse benoem in die jaarlikse SA Rugby toekennings wat Dinsdag aangekondig is.

Die groot prys is egter SA Rugby se Speler van die Jaar-toekenning en dit is geen verrassing dat die kategorie deur die Springbokke gedomineer is nie met Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Damian Willemse en Frans Malherbe wat almal in aanmerking sal kom vir dié gesogte prys.

Die Cheetahs is op hulle beurt benoem vir die Span van die Jaar-eerbewys. Dit sal vir hulle baie moeilik wees om met die louere weg te stap aangesien hulle meeding teen die Springbokke, wat die Rugbywêreldbeker vir ‘n rekord vierde keer gewen het, asook die Stormers wat vir ‘n tweede agtereenvolgende seisoen in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap gespeel het.

Die Curriebeker-wenners se afrigter, Hawies Fourie, is vir die eerste keer in sy loopbaan benoem vir die Afrigter van die Jaar-eerbewys. Die Springbokke se oud-breier, Jacques Nienaber, asook John Dobson van die Stormers is in dié kategorie benoem. Fourie meen dat die Vrystater, Nienaber, die man is wat die erkenning verdien danksy die Bokke se suksesvolle verdediging van die Rugbywêreldbeker.

Laastens is die gesoute en veelsydige Ruan Pienaar benoem vir die Curriebeker Speler van die Jaar-eerbewys. Pienaar sal ‘n baie goeie kans staan om die toekenning te wen. Hy kom egter teen Tinus de Beer en Devon Williams te staan, wat albei uitstaande seisoene vir die Pumas beleef het.

Fourie het aan Bloemfontein Courant gesê sy span verdien al die erkenning vir hul harde werk, wat daartoe gelei het dat hulle die Curriebeker ‘n sewende keer gewen het.

“Rugby is ‘n spansport, so ek is bly dat die Cheetahs ook as een van die spanne van die jaar benoem is,” het Fourie gesê.

“Ek wil my bestuurspan en hulpafrigters, asook al die spelers, bedank. Dit is danksy hul harde werk dat ons genomineer is. Baie geluk aan Ruan wat benoem is vir die Curriebeker Speler van die Jaar, dit is ook welverdiend.”

Al die wenners sal vroeg aanstaande jaar aangekondig word. – MORGAN PIEK

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...