E Copy

Date:

Cape Epic-koningin in aksie in Bloemfontein

Een van die bekendste bergfiets (MTB)-jaers in die wêreld, Ariane Lüthi, wat veral haar naam in die moordende Cape Epic-toer ingegrawe het as een van die bestes ooit, het Saterdag haar opwagting by die Spur-skole-bergfietsreeksbyeenkoms in Bloemfontein gemaak.

Lüthi, wat reeds vyf keer oorwinning gesmaak het in die Cape Epic, was Saterdag in die Rosestad op Brandkop teenwoordig vir die tweede van vier byeenkomste van die genoemde Spur-reeks se Vrystaat-afdeling.

Die Switsers-gebore Lüthi is ambassadeur van Spur, vir wie sy die laaste paar jaar in die Cape Epic in Bloemfontein gejaag het, en is menige bergfietsryer onder die jongspan se rolmodel. Haar tuiste is deesdae Stellenbosch.

Lüthi was ook nie net in Bloemfontein om met ‘n mooi gesiggie handtekeninge uit te deel nie; sy het saam met die kleinspan gery en hulle met raad bedien.

Die voorste jong bergfietsjaer in Suid-Afrika onder die skoner geslag, Chanté Olivier (Sentraal), wat in die sub-junior afdeling vir meisies jaag, kon nie uitgepraat raak oor hoe beskeie die 33-jarige Lüthi is nie.

Olivier, wat haar wedren oor twee rondtes verspot maklik in 30:44 gewen het, het aan Courant gesê: “Dit was ‘n ongelooflike voorreg en ervaring om saam met haar te kon ry. Sy sou net een rondte saam met elke ouderdomsgroep ry, maar het besluit om altwee my rondtes saam met my af te lê. Om haar net te gesien het was reeds ‘n voorreg en toe ry sy boonop heelpad saam met my. Sy het my die heeltyd aangemoedig en vir my gesê ek het haar ‘n goeie ‘workout’ gegee.”

Ewan Louw van Grey-kollege FOTO: MORGAN PIEK

Buiten vir Olivier se puik oorwinning het ‘n paar ander opwindende wedrenne hulle afgespeel.

In die afdeling vir junior seuns oor vier rondtes het die Grey-man, Dawie Grobbelaar, gerieflik geseëvier in 56:02 nadat hy van meet af aan die voortou geneem het. Hendrik Bester (Ficksburg, 58:47) was tweede, gevolg deur Ruben Steyn (1:01:39) van die Hoërskool Sasolburg.

Evan Louw (Grey-kollege) het in die jeug-afdeling vir seuns, wat ook oor vier rondtes beslis is, die krane behoorlik oopgedraai en ná die eerste rondte reeds ‘n gaping van meer as 30 sekondes bewerkstellig. Hoewel sy Grey-spanmaat, Marnus Prinsloo, die vinnigste laaste rondte afgeblits het, was dit te laat om Louw in te haal. Louw het gewen in 57:06 met Prinsloo wat met die tweede plek tevrede moes wees in 58:22. Camelius van der Riet (Ficksburg) was kort op Prinsloo se agterwiel met ‘n derdeplektyd van 58:24.

Simoné Faber (Jim Fouché) het in die jeugafdeling vir meisies oor drie rondtes haar staal getoon deur die tweede jaer, Simoné Grové (Ficksburg), met 58 sekondes te klop. Faber het ‘n mooi 51:32 aangeteken en Grové kan self tevrede voel met haar tyd van 52:30.
SW Kruger (Grey-kollege, 47:48) het koning gekraai in die sub-jeugafdeling vir seuns en Charise Bezuidenhout (Jim Fouché, 1:02:06) was eerste oor die eindstreep in die afdeling vir junior meisies. – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

Celebrate Human Rights Day at Oliewenhuis Art Museum in Bloemfontein

Oliewenhuis Art Museum invites the public to celebrate Human...

Boikhuco Old Age Home to host fundraising gala dinner in Mangaung

The Mangaung Society for the Care of the Aged...

Planned power interruptions in the city from 25-27 March

Residents from various areas in the Mangaung Metropolitan Municipality...

Making the most of your bonus this bonus season

While December is known for South Africa’s traditional 13th...