Boere sukkel met vervoer ná reën

0
388
Die ernstige toestande van die paaie

Die baie reën oor die afgelope tyd het nie net paaie in die stad beskadig nie, maar vir baie boere in die Vrystaat ‘n groot kopseer geraak. Paaie is só beskadig dat dit in sommige gevalle onbegaanbaar is.

Nick Meyer, wat ‘n plaas tussen Glen en Soetdoring besit, sê dat paaie wat onbegaanbaar is, ekstra uitgawes veroorsaak het. “Ons het self begin om paaie te herstel omdat dit vir ons onmoontlik is om paaie wat in só ‘n toestand is, te gebruik. Dit is baie moeilik om vragmotors te kry om vee te vervoer van plase af.”

Nick Meyer

Meyer het bygevoeg dat alhoewel hulle weet dat hulle nie die paaie self mag herstel nie, het hulle noodgedwonge besluit om dit te doen omdat hul ondernemings daaronder ly. Boere het begin om teer en pype te koop om die water te probeer dreineer indien ‘n volgende vloed hulle sou tref.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, het ook sy misnoë oor die toestand van baie paaie uitgespreek. Hy sê daar is sekere plekke waarby mense nie eens kan uitkom nie. “Die water loop af in die pad, dit word dan later ‘n rivier en mense kom nie by hul bestemmings uit nie. Om by die werk te kom, is bykans onmoontlik. Dis ook moeilik om mediese hulp te ontvang, want ambulanse kan nie op die paaie ry nie. Indien iets op van die plase sou gebeur, kan die polisie ook nie daar uitkom nie.”

Francios Wilken

Volgens Wilken het boere self ingespring en begin om paaie te herstel. Hy stem saam met Meyer dat hulle dit eintlik nie mág doen nie, maar die regering doen niks omtrent die saak nie, selfs al het hulle reeds navraag gedoen. Hy is van mening dat die Mangaung Metro onder druk geplaas moet word om bystand te verleen sodat dinge na normaal kan terugkeer.

Een van die paaie wat deur die boere reggemaak is

Intussen is die departement van polisie, paaie en vervoer se padonderhoudspanne reeds regoor die provinsie ontplooi. Die fokusareas sluit Memel, Hennenman, Vrede, Edenville, Senekal, Winburg en Reitz in.

Sam Mashinini, LUR vir departement van polisie, paaie en vervoer in die FS, het padgebruikers aangemoedig om met ekstra versigtigheid op hierdie paaie te ry, aangesien ongelukke en nat of modderige oppervlakke jou sal dwing om jou bestuursgedrag aan te pas en te verseker dat jy veilig sal wees. Mashinini het ook padgebruikers aangemoedig om op die uitkyk te wees vir padwerkers en dan versigtig en stadig te bestuur.

Bloemfontein Courant het die munisipaliteit gekontak, maar het tot dusver geen kommentaar ontvang nie.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za