April geoormerk vir begin van Varsitybeker

0
316
Xavier Swartbooi van die SUT Ixias teen die Univsersiteit van Weskaapland FOTO: HANNES NAUDE

Die 2021-Varsitybeker-rugbyreeks sal vanjaar beslis word, maar dié gewilde toernooi sal in ‘n bioborrel gespeel word en dit lyk asof die aksie in Pretoria sal plaasvind.

‘n Vergadering met die organiseerders en verteenwoordigers van al die deelnemende universiteite het Maandag plaasgevind. ‘n Besluit is geneem dat die Varsitybeker, sowel as die Varsityskild-reeks vanjaar beslis sal word, maar die Young Guns-reeks nie.

Dié gewilde Varsitybeker-reeks vind gewoonlik van Februarie af plaas en aanvanklik is daar gehoop dat die rugby in Maart sou begin. Die toernooi sal nou egter eers in April van stapel gestuur word.

Op die vergadering is die besluit ook geneem dat daar vanjaar geen relegasie sal plaasvind nie.

Daar word verneem dat die spanne vir drie geleenthede in ‘n week in die bioborrel sal bly. In daardie tydperk sal elke span in drie wedstryde meeding voordat hulle ‘n twee week lange breek sal neem.

In dié stadium blyk dit egter dat die minister van sport, Nathi Mthethwa, dié plan van aksie moet goedkeur voordat enige amptelike aankondiging gemaak kan word en die bepalings uitgereik word.

Die afrigter van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se Ixias, Pieter Bergh, het aan Bloemfontein Courant gesê daar heers groot opwinding in dié kamp sedert hulle die nuus ontvang het dat die toernooi wel vanjaar sal plaasvind.

“Ons oefen al vanaf Oktober verlede jaar. Ons het in die gym begin en toe na die veld gekeer toe ons toegelaat is om buite te oefen.

“Tot dusver loop alles baie goed, maar dit is moeilik om die ouens positief en opgewonde te hou tydens die oefensessies. Dit was weens die feit dat niemand geweet het of ons gaan speel of nie. Om in die koerante te lees dat daar moonlik geen amateurrugby sal wees nie, het ook nie gehelp nie.

“Ons het die situasie goed bestudeer en ons oefen steeds hard. Gister, toe ons die nuus ontvang het, was daar baie opwinding onder die spelers.

“Ons het gisteraand ‘n baie goeie oefensessie gehad met baie intensiteit en baie opwinding. Die spelers het dit baie geniet, te danke daaraan dat ons nou ‘n datum het om mee te werk.

“Daar is agt weke voordat die seisoen begin en dit gee ons baie tyd, veral omdat ons reeds baie gedoen het. Ons is almal baie opgwonde en daar is baie om na uit te sien.”

In 2020 is daar nie ‘n kampioen gekroon nie weens die Covid-19-pandemie wat rugby tot ‘n halt geroep het. Toe die wedstryde afgelas is, was die verdedigende kampioene, die Universiteit van Stellenbosch Maties, die pasaangeërs. – MORGAN PIEK