Boere sien uit na nuwe seisoen ná reën

0
424
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.

Boere regoor die Vrystaat het die onlangse reën met ope arms verwelkom ná die groot droogte van die verlede en die verwoestende brande die afgelope jaar.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die goeie reënval baie welkom is ná die droogtetoestande wat boere sedert 2015 beleef het in groot gedeeltes van die provinsie en wat selfs erger in ander dele van SA voorgekom het.

“Ná die verwoestende veldbrande in die Wes-Vrystaat in die Boshof-, Hertzogville- en Hoopstad-omgewing, is veeboere daar verheug oor die goeie reënval, wat vinnig hul kaalgebrande veld laat herstel het,” sê Wilken.

Hoewel die reën vir baie goeie nuus gebring het, is dit ongelukkig anders vir sekere boere in saaigebiede waar die sagte reën verspoelings veroorsaak het. Dit het gelei tot groot skade onder sekere gewasse, veral jong mielie-, sonneblom- en boontjie-gesaaides. Volgens Wilken het dit tot ‘n gemiddelde oesverlies van 30% gelei in hierdie gebiede.

Die reën het ook meeste van die Vrystaat se paaie in landelike gebiede weggespoel en toestande is vererger weens swak onderhoud. Wilken sê dat Vrystaat Landbou as organisasie ingespring het om die staat in te lig oor potensiële ramptoestande op plekke waar vloede voorgekom het en hul lede daar bemagtig het met die nodige riglyne om self paaie gangbaar te kry.

Die ou spreekwoord dat elke donker wolk ‘n silwer randjie het, blyk waar te wees as na die oesskattings in geheel gekyk word. Moontlike rekordoeste lyk moontlik in die groter gedeeltes van Suid-Afrika. Dit is net gebiede van Bultfontein, Hoopstad, Parys, Hertzogille, Bethlehem, Petus Steyn, Lindley, Kestell en Harrismith waar daar oesverlies en versuiptoestande is.

“Veral koringaanplantings wat in Desember al reg was vir stroop, kon nog nie afgehandel word nie weens die nat toestande en is nou al voergraad, wat beteken dit is die helfte van eerstegraad se prys, wat tot ‘n misoes lei,” sê Wilken.

Volgens hom is die grond versadig en as dit nog sou reën, spoel die water af en dit kan skade veroorsaak, veral as dit harde reën is. “As versuiptoestande te lank aanhou, veroorsaak dit ook oesverlies – veral by jong plantjies en koring wat geoes moet word; boere kan nie in die lande kom nie. Hulle kan ook nie peste en swamme beheer en nie, ook nie blaarvoeding van stikstof deur spuittoerusting nie. Soos ook vroeër genoem, is baie reën baie sleg vir ons paaie.”

Tonie Rossouw van die SA Weerdiens voorspel nóg reën. Die Vrystaat beleef tot dusver bogemiddelde reënval vir die seisoen, wat welkom is ná jare van droogte en laat reëns. Alhoewel daar plek-plek skade is met oorstromings en koring wat nie gestroop kan word nie, sien boere uit na ‘n goeie seisoen.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za