‘n Nuwe president is tydens ‘n algemene ledevergadering vir die Bloemskou gekies. Coen van Tonder is vroeër die maand as die nuwe president van die Lanbougenootskap sowel as die Bloemskou verwelkom.
Tydens dieselfde vergadering is Alda Fourie as vise-president: handel en nywerheid en John Melville as vise-president: landbou aangewys.
Die besluit kom nadat Len Davies sewe jaar lank van 2011 tot 2018 as president gedien het en besluit het om uit te tree. Hy en sy vrou verhuis na George.
“Baie dankie aan mede-raadslede, personeel en alle betrokkenes by die jaarlikse Bloemskou vir jul ondersteuning oor die jare. Ek is trots oor die groei en verbetering van die jaarlikse Bloemskou oor die tydperk,” het Davies gesê.
Van Tonder is reeds van 2006 af die voorsitter van die beestekomitee by Bloemskou en van 2010 af die vise-president: landbou van die Bloemskou. Van Tonder is ‘n bekwame Dexter-boer van die distrik.
Melville is van 2010 af die voorsitter van die kleinveekomitee by die Bloemskou. Fourie is die verkoopsbestuurder by OFM en is van 2008 af as raadslid en komiteelid by die Bloemskou betrokke. – Jeretha Oosthuizen
[email protected]







