Ten spyte van die feit dat hy gebore is met slegs 40% sig, het Nielbert Mostert alle uitdagings oorkom om vanjaar sy graad in Teologie te voltooi. Noudat dié stap uit die pad is, mik hy om sy meestersgraad te voltooi en met bediening in die kerk te begin.
Mostert is een van ‘n drieling en het by die Primêre Skool Willem Postma en Hoërskool Sentraal skoolgegaan, voor hy sy reis by die Universiteit van die Vrystaat (UV) begin het. Tydens sy skooljare is Mostert deur ‘n tutor bygestaan.
Hy verduidelik dat dit vir hom makliker was om as deel van ‘n drieling groot te word, en ook dat sy ouers hom glad nie anders hanteer het nie. “My ouers het my so grootgemaak om alles te probeer, en as dit nie gewerk het nie, probeer ek ‘n ander manier,” het hy vertel. “Dit was nie ‘n geval van ‘moet dit nie probeer nie’, dit was meer ‘probeer dit eers en besluit dan’.”
Volgens Mostert het hy Teologie geswot as gevolg van sy pa, wat ook ‘n dominee is. “My pa het gesê ek moet inskryf omdat ek maklik toelating sou kry,” het Mostert lighartig vertel. “Dit is iets waarvoor ek ‘n passie het van kleintyd af.” Hy sê ook dat die Here nog nie vir hom ‘n “plan B” gewys het nie en glo dat hy op die regte pad is.

Mostert begin in September sy gemeentejaar – ‘n vereiste om te kwalifiseer as ‘n dominee in die NG Kerk. “Ek beplan om my gemeentejaar in Worcester te doen,” het hy aan Bloemfontein Courant verduidelik. “Dit lyk darem redelik uitgesorteer, so die plan is om soontoe te gaan.”
Mostert verduidelik ook dat hy ‘n baie mededingende persoon is. Hy is ‘n langafstandatleet vir die UV, en wil ook in die toekoms die Two Oceans-resies aanpak. “Ek is nie iemand wat maklik opgee nie,” sê hy.
Vir sy meestersgraad in Teologie fokus Mostert op Gestremdheid-Teologie, ‘n rigting wat na aan sy hart is. “Dit is iets waarmee ek self leef, en dit is iets waarmee baie mense sukkel,” verduidelik hy. “In Genesis 1 en 2 staan dat God die mens na Sy eie beeld geskape het. Dit bring die vraag, as ons almal na Sy beeld geskape is, hoe beïnvloed dit iemand met ‘n gestremdheid?”
Vir ander jongmense met gestremdhede, sê Mostert: “Dit is belangrik om te besluit hoe jy dit gaan hanteer. My mentaliteit is dat dit is hoe God my gemaak het, en binne in dit gebruik Hy my. Moet net nie opgee nie, byt vas en hou aan probeer tot jy nie meer kan nie, en vra vir hulp as jy dit nodig het.”
Warren Hawkins
[email protected]







