Nog ‘n jaar van sport in Bloemfontein is iets van die verlede en natuurlik was daar weer eens hoogtepunte en laagtepunte, terwyl heelwat Vrystaters op plaaslike, nasionale en internasionale vlak geskitter het.
Die belangrikste aspek in sport vanjaar is sekerlik die feit dat ons vir die eerste keer in drie jaar weer die atlete en spelers in aksie kon geniet sonder om die ontwrigtende Covid-19 pandemie te vrees.
In rugby was die Toyota Cheetahs bitter naby aan ‘n sesde Curriebeker-titel. Ongelukkig het die span in die doodsnikke van die halfeindstryd met 38-35 teen die nuwe kampioene, die Poemas, in Bloemfontein vasgeval. Daar was egter ‘n baie groter prys op die spel met die span wat vir die eerste keer in amper drie jaar weer aan ‘n groot internasionale kompetisie begin deelneem het. Die span het die Vrystaat trots gemaak met ‘n uitstekende 21-16 sege teen Section Paloise in Pau, Frankryk, in hul eerste kragmeting van die Europese Uitdaagbeker.
Die Springbokke was vir ‘n slag weer in die Rosestad vir die tweede toets teen Wallis. Hoewel die Wêreldkampioene met 13-12 verloor het, was dit ‘n fees by die Toyota-stadion gewees. Om te hoor hoe ‘n uitverkoopte stadion in volle bors saam met Caroline Grace die nasionale volkslied sing, was iets om te beleef.
In krieket was die hoogtepunte maar min vir die ITEC Knights, maar Rilee Rossouw het geskitter met die kolf op internasionale vlak vir die Proteas, asook by die T20 Wêreldbeker, terwyl die jong snelbouler, Gerald Coetzee, vir die eerste keer by die T20- en Toetsspan ingesluit is. Coetzee se driekuns vir Suid-Afrika in Brisbane teen die Australiese uitnodiging XI-tal dui daarop dat ‘n groot toekoms op dié jong speler wag.Die Universiteit van die Vrystaat se krieketspan het geskitter by die USSA-week en hulle het die halfeindronde van die Divisie 1-toernooi bereik.
In sokker was dit ‘n stil jaar aangesien daar nie meer ‘n PSL-span in die Vrystaat is nie. Dit kan egter binnekort verander. Die Universiteit van die Vrystaat het darem hul staal weer eens getoon en die halfeindronde van die Varsity Sokkerreeks bereik.
In tennis het ‘n leerder van Oranje geskitter op die baan deur ‘n internasionale toernooi in Bloemfontein te wen. Donna le Roux het koning gekraai in die enkelspel vir meisies en sodoende die Cepha Tennis Junior ITF-reeks gewen. Dit was maar een van haar prestasies op die baan wat daartoe gelei het dat sy aangewys is as die Vrystaat Sportvrou van die Jaar. Net verlede week het die Universiteit van die Vrystaat se tennisspan weer bewys dat hulle die beste in die land is deur die USSA-week vir ‘n tiende keer te wen. Hulle is steeds die enigste span om die gemengde kompetisie te wen.
Hokkie in Bloemfontein was in 2022 ‘n groot wenner met verskeie mans en vrouespelers wat vir Suid-Afrika by die Wêreldbeker, Statebondspele, Proliga en Nasiesbeker gespeel het. Shindré-Lee Simmons, Taheera Augousti, Kayla Swarts, Ntsopa Mokoena, Trevor de Lora en Jacques van Tonder het almal die afgelope paar weke en maande die Vrystaat se vlag hoog laat wapper op internasionale vlak.
In gholfkringe was dit ‘n groot jaar vir Bloemfontein, met die eerste Mangaung Ope wat by die Bloemfontein- asook Schoemanpark-gholfklub plaasgevind het. Die toernooi het van die land, asook die wêreld se voorste spelers in aksie gesien.
Hierdie is maar enkele prestasies vanjaar deur ons atlete en sportsterre. (On)gelukkig is daar net te veel om te noem. Daarby gesê — welgedaan aan elkeen wat presteer het. Mag ons plaaslike talent in 2023 van krag tot krag gaan.
‘n Belowende sportjaar word vir Bloemfontein in 2023 verwag en dit begin so vroeg as Januarie, met die krieketwêreldkampioene, Engeland, wat Suid-Afrika in twee internasionale eendagwedstryde in die Mangaung Oval die stryd sal aansê. – MORGAN PIEK







