Die polisie in Bloemfontein ondersoek ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur nadat ‘n sesjarige seun ernstig beseer is toe hy gistermiddag oorkant sy skool in die stad raakgery is. Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die bestuurder van ‘n ligte vragmotor het, nadat hy die seun in Andries Pretoriusstraat getref het, by die toneel gestop. Dit is vroeër berig dat die bestuurder weggejaag het. Die hoof van die Laerskool Sentraal in die Navalsig-woonbuurt, Mike Jacobs, sê die seun is ‘n gr.R-leerling aan die skool en hy wil in dié stadium nie die seun se naam bekend maak nie.
Woordvoerder van Mediclinic Bloemfontein, Barbara Steenkamp, sê die seun is in ‘n stabiele toestand in dié hospitaal se intensiewesorgeenheid vir kinders. Hy het verskeie frakture en ander beserings opgedoen.
Volgens die takbestuurder van ER24 in Bloemfontein, Lucas Bezuidenhout, het paramedici die seun, wat in ‘n kritieke toestand was, gestabiliseer, waarna hy na Mediclinic Bloemfontein vervoer is.
Bezuidenhout het vroeëer gesê omstanders, wat onderwysers van die laerskool insluit, was gister baie behulpsaam om nuuskieriges weg te hou sodat paramedici die beseerde seun kon stabiliseer.
Die polisie-ondersoek duur voort.







