Bekendes deel hul voornemens

0
438
Frans van Staden

Met die aanbreek van 2019 was dit weer dié tyd van die jaar dat mense nuwejaarsvoornemens het, hetsy spesifieke doelwitte of ‘n paar veranderinge in hul lewe.
Bloemfontein Courant het met ‘n paar bekendes in die Rosestad gesels om uit te vind presies wat 2019 vir hulle inhou.

Xander Steyn

Xander Steyn, eienaar van Xander Steyn Art Productions, sê hy droom elke jaar ‘n bietjie groter as die vorige en dit is presies wat hy vanjaar weer gaan doen. “Xander Art Productions het binne vyf jaar van 19 studente tot 105 gegroei, met 12 vertonings agter die rug! Hierdie jaar gaan ek ook meer dankbaar wees en meer dinge wat mens as vanselfsprekend aanvaar, waardeer. Met my ouma wat tans op haar sterfbed lê, sal ek ook my familie meer waardeer, want ons tyd hier is kort en geleen. In ‘n neutedop sou ek sê, ‘Wees meer, droom groter, wees dankbaar en hê meer lief!'”

Michele Lawrence

Michele Lawrence, Mevrou Bloemfontein 2018, wil graag in die nuwe jaar ‘n verskil maak. Sy sê daar is soveel areas waar daar behoeftes is dat mens nooit almal sal kan help nie, maar as Mev. Bloemfontein Wengroep wil hulle baie graag waar moontlik werklik ‘n verskil maak in kinders en mense se lewe. “‘n Droom wat neergeskryf word met ‘n datum word ‘n doelwit; ‘n doelwit wat in stappe opgedeel word, is ‘n plan; ‘n plan wat ondersteun word deur aksie word ‘n realiteit. Begin waar jy is en doen wat jy kan met wat jy het. Onthou dat jy geliefd is, dat jy wonderbaarlik geskape is, dat jy pragtig is, dat jy ‘n doel het, dat jy ‘n meesterstuk is, en dat die Here vir ons elkeen ‘n plan het – Jer. 29:11.”

Frans van Staden, musikant van Bloemfontein, meen oor die algemeen werk nuwejaarsvoornemens nie uit nie, veral as jy byvoorbeeld op ‘n streng dieet gaan. Januarie gaan nou nie juis werk nie, want daar is mos nou nie geld nie. “Ek wil vanjaar beslis meer optredes doen en feeste soos die KKNK, Aardklop en Bloemskou bywoon. Ek beoog ook om twee nuwe enkelsnitte vry te stel, of selfs ‘n album as die finasies my toelaat. Ek wil ook definitief meer tyd saam my vrou en seuntjie deurbring.”

Zelda Goetz

Zelda Goetz, ‘n radiopersoonlikheid van OFM, sê sy wil soveel nuwe plekke moontlik saam met haar geliefdes besoek. “Dit hoef nie duur reise te wees nie, ‘n mens se finansies laat dit nie altyd toe nie. Dit kan so eenvoudig wees soos om jouself te bederf met ‘n lekker ete by ‘n restaurant wat jy nog nie voorheen besoek het nie, jy kan iewers afdraai by ‘n dorpie wat jy normaalweg by verbyry, of jy kan jouself oopstel vir die positiewe om jou, en nuwe herinneringe deel maak van jou lewe. Jy weet nooit wat jy kan ontdek nie en watter wonderlike dinge jy kan beleef en onthou nie.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za