Anchor of Hope het onlangs ’n nuwe, groter en beter vragmotor aangeskaf. Dit het hulle in staat gestel om weer in Bloemfontein se strate te werk nadat hul vragmotor twee maande gelede onklaar geraak het.
Volgens Anchor of Hope se Boeta Swart het die vragmotor hulle nie ’n sent gekos nie en dit is alles te danke aan hul borge wat dit moontlik gemaak het. Die koste vir die vragmotor was R556 000. Anchor of Hope het daarin geslaag om R100 000 van daardie geld op hul gholfdag in te samel en die res is deur borge gefinansier.
“Die Kia-lorrie wat ons gehad het, het meer as 600 000km op die klok gehad en ek het basies Anchor daarmee begin. Met verloop van tyd het baie verkeerd geloop met die vragmotor en twee maande terug het dit uiteindelik ingegee,” sê Swart.
Hy voeg by dat hy vier maande voordat dit eintlik ingegee het, begin konsulteer het met ‘n paar mense wat hulle kon help om ‘n nuwe vragmotor te koop. “Die reaksie op my versoek was ongelooflik. Baie mense het dadelik ja gesê en was gretig om te help,” het Swart gesê.
Volgens hom het ‘n paar besighede gehelp en sommige mense het selfs hand in hul eie sak gesteek om die vragmotor te help befonds. Hy het ook genoem dat een persoon vir hulle geld uit hul verband gegee het terwyl ‘n ander vir Anchor of Hope R30 000 van sy boedel gegee het.
“Die vragmotor laat ons nie net ons voetspoor verbreed nie, dit stel ons ook in staat om nuwe vennootskappe aan te gaan. Een so ‘n vennootskap is dié met die Universiteit van die Vrystaat vir hul herwinningsprogram,” het Swart gesê. Hy voeg by dat dit net die begin van hul vennootskap met die universiteit is en dit het hulle beslis toegelaat om meer vir die stad te doen. “Dankie God en aan alle vennote wat vir die vragmotor gegee het en aan Anchor of Hope glo.”
Justine Fortuin
[email protected]







