VS behou Curriebeker-status

0
379
Toyota Free State Cheetahs PHOTO: JOHAN PRETORIUS

Die Toyota Vrystaat Cheetahs het hul status behou as ‘n Premierafdelingspan toe hulle Dinsdagaand die SWD Arende in Bloemfontein in ‘n promosie-relegasiewedstryd met 36-5 verslaan het.

Die uitslag van die kragmeting is nooit werklik betwyfel nie, maar dit het ‘n mens laat dink wat kon gebeur het as die span van George die Blikore kon klop. ‘n Nederlaag sou ernstige gevolge vir die Bloemfonteiners gehad het, grootliks finansieel van aard.

Daar was ‘n sterk moontlikheid dat die span se hoofborg sy geldelike bydrae verminder het siende dat die span in minder uitgesaaide wedstryde sou meeding, en dit is ook nie net die hoofborg wat dit sou doen.

So dit nou staan, het SA Rugby reeds sy finansiële bydrae aan alle spanne drasties verminder, en ons het reeds gesien dat spanne uit die eerste afdeling-wedstryde onttrek het, want dit is net te duur om te reis.

Voordat die Welwitchias van Namibië byvoorbeeld uit die eerste afdeling onttrek het, het die Griffons aangedui dat hulle nie na Windhoek sou reis nie, want dit sou nagenoeg in die omgewing van R300 000 kos om die span in dié kragmeting te laat speel.

In die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika is dit nog moeiliker op borge nader te trek, veral as ‘n span nie hul kant op die veld bring nie en uitslae nie positief is nie.

Daar word berig dat SA Rugby wel weer na die formaat van die Curriebeker kyk en vanaf aanstaande jaar kan die agt franchises in Suid-Afrika in die toernooi meeding. Dit sal beteken dat die Oostelike Provinsie weer in die toernooi sal speel. Die ander spanne sal Vrystaat, die Haaie, Goue Leeus, Blou Bulle, Westelike Provinsie, Griekwas en die Poemas wees.

Die formaat sal na verwagting twee groepe van vier wees wat tuis en weg teen mekaar meeding, met die wenner van elke groep wat na die halfeindronde deurdring. Die spanne wat tweede en derde eindig in elke groep, sal mekaar pak in ‘n kwarteindstryd.

Die voorlegging is blykbaar reeds gedoen en dit hang nou af van die algemene raad om dit goed te keur. Daar word ook geglo dat die Curriebeker effens vroeër in die seisoen sal begin en die Cheetahs se breier, Franco Smith, het reeds aangedui dat die Guinness Pro14 aanstaande jaar ‘n maand later sal afskop.

Dié scenario sal ideaal wees vir albei die Cheetahs en die Southern Kings, siende dat hulle in ten minste ses Curriebeker-wedstryde sal speel, wat ook ‘n goeie geleentheid is om die spelers te slyp vir die Pro14.

Aan die positiewe kant, het die Cheetahs bewys dat hulle in die Curriebeker hoort en dus in die toernooi sal speel. Met die ondervinding wat die jong span vanjaar opgedoen het, behoort hulle aanstaande jaar baie beter te vaar.

Interessante statistiek bewys dat die Vrystaat oor die afgelope 15 jaar sonder twyfel die beste span in Curriebeker-rugby is. Die Cheetahs het in ses eindstryde gespeel in die beker vier keer omhoog gehou. Die Haaie het vier keer gewen in sewe eindstryde, die Streeptruie het drie titels in sewe pogings, die Blou Bulle staan op twee uit ses, en die Goue Leeus het slegs twee titels in vier eindstryde verower. – MORGAN PIEK