28 kinders dié week in Bloem tydens Smile Week geopereer

0
1711

LANI FOUCHÉ

“Mens kan nie dink dis dieselfde kind nie. Kyk net hoe mooi lyk sy nou.”

Ma Wanda Olivier druk haar vierjarige dogtertjie, Amoré, styf vas waar sy op haar hospitaalbed aan ‘n malvalekker sit en kou. Sy wag op haar tiende gesigoperasie vir ‘n erge gesplete verhemelte in die Universitas-hospitaal. Sy’s al gewoond aan die dokters, en verstaan vanjaar vir die eerste keer wat werklik op haar wag.

Amoré is een van 28 kinders wat hierdie week, van eergister (Maandag) tot Vrydag, as deel van die Colgate Smile Week in Bloemfontein geopereer word sodat hulle weer met gemak kan glimlag.

Die Smile Foundation is ‘n landwye nie-winsgewende organisasie wat toesien dat kinders met gesiggestremdhede, wie se ouers nie die mediese onkoste kan dek nie, geopereer word. Meer as ‘n duisend kinders het reeds in sy dertien bestaansjare hierby gebaat.

In Bloemfontein is dit vanjaar die vyfde Smile Week. “Baie van hierdie kinders wag al baie lank vir chirurgie. Ons probeer die proses bespoedig en alle kinders wat sulke behoeftes het, in hierdie vyf dae chirurgie en/of berading te laat kry,” sê Moira Gerszt, operasionele uitvoerende direkteur van die Smile Foundation.

“Vir hierdie week se operasies in Bloemfontein het die chirurge 28 kinders uit verskeie klinieke geïdentifiseer wat die operasies nodig het. Ons staan die gesinne ook by met sielkundige berading, spraakterapie en arbeidsterapie,” verduidelik Gerszt.
Volgens statistieke word een uit elke 750 Suid-Afrikaanse kinders met ‘n gesiggestremdheid gebore, en benodig chirurgie.