GEORG VAN ECK
Fietsry in die Vrystaat is besig om te blom en die talle prestasies, wat die lede van Vrystaat Fietsry behaal het, getuig daarvan.
Dit is duidelik weerspieël tydens die onthaal van Vrystaat Fietsry in die lapa van die Lettie Fouché-skool waar die top-presteerders toekennings en hul Vrystaat-kleure ontvang het.
Een van die groot prestasies wat Vrystaat Fietsry onder leiding van sy president George Stroebel behaal het, is die BMX-renbaan wat by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein gebou is en reeds in gebruik geneem is. Deelnemers kan bykans daagliks op die baan oefen en dit gee die afdeling van fietsry ’n geweldige hupstoot in die Vrystaat.
Al die afdelings van fietsry in die Vrystaat (padfiets, baanfiets, bergfiets en fietsry vir gestremdes) is op die onthaal vereer.
Van die Vrystaat se jong ryers het op talle byeenkomste in die land presteer en selfs oorsee hul merk gemaak. Raymond van der Walt is die Suid-Afrikaanse o.16 padfietskampioen, terwyl Heinrich Stroebel ’n bronsmedalje op die nasionale baanfiets-kampioenskappe het in die span-agtervolgingrit verwerf het.
Die belangrikste toekennings was egter die 2013 Vrystaat Fietsry Sportman/Sportvrou van die Jaar. Onder hulle tel twee vroue-fietsryers, Wilmerie Jacobs (bergfiets) en Adele Janse van Vuuren (padfiets), wat uitstekend presteer het.
Tat Brummer het op sy padfiets op die Suid-Afrikaanse tydtoetskampioenskappe in die afdeling veterane (30-39 jaar) ’n bronsmedalje verower.
Die Maarsinghs van Bloemfontein, Dirk en sy seuns, Berno en Rinus, het hul merk ook deeglik in bergfietsry gemaak.
Toptoekennings
Junior Sportman van die Jaar –Bergfiets: Raymond Wagener. Senior Sportvrou van die Jaar – Bergfiets: Wilmerie Jacobs. Senior Sportman van die Jaar – Bergfiets: Arno du Toit. Senior Sportvrou van die Jaar – Padfiets: Adele Janse van Vuuren. Senior Sportman van die Jaar – Padfiets: Tat Brummer. Senior Sportman van die Jaar – Baanfiets: Heinrich Stroebel. Junior Sportman van die Jaar – Padfiets: Raymond van der Walt. Topklub van die Jaar: Cycleworld.







