LANI FOUCHÉ
Die eetstaking van die twee vermeende verregses in die Grootvlei-tronk buite Bloemfontein volg kort op die hakke van ‘n massa-eetstaking deur meer as ‘n honderd gevangenes in Kroonstad.
Die Vrystaatse departement van korrektiewe dienste se adjunkhoof, Grace Molatedi, sê 150 gevangenes het verlede week vir ‘n paar dae ophou eet weens ‘n tekort aan warm water.
"Daar was ‘n probleem met die kragtoevoer, wat veroorsaak het dat die water nie warm was nie. Sowat 150 gevangenes het op ‘n eetstaking gegaan, wat ‘n paar dae geduur het. Hulle het weer begin eet toe die waterprobleem uitgesorteer is."
In Grootvlei het Johan Prinsloo en Mark Trollip Maandag begin eet-staak oor hul ongelukkigheid oor verskeie regskwessies. Prinsloo, wat ‘n diabeet is, het in ‘n verklaring gesê sy gesondheid gaan só agteruit in die tronk dat hy teen November vanjaar so afgemat sal wees dat hy nie regverdig verhoor sal kan word nie. Hulle kla ook oor die tempo waarteen die saak ondersoek word.
Molatedi sê hulle gesondheid word fyn dopgehou. "Ons kan hulle nie forseer om te eet nie, maar ons ontmoedig hulle deurentyd om nie te eetstaak nie. Dit kan nadelig vir hulle gesondheid wees."
Sy sê hul medikasie is ook nou deur tronkowerhede afgeneem, en word onder toesig aan hulle gegee om te drink. "Dit is weens gesondheidredes. Mens is veronderstel om medikasie op ‘n vol maag te neem."
Prinsloo en Trollip word saam met Hein Boonzaaier en Martin Keevy daarvan verdink dat hulle beplan het om top ANC-leiers tydens die party se Mangaung-kongres verlede jaar te vermoor. Hulle moet weer op 23 Augustus saam in die hof verskyn.
Boonzaaier is uit op R80 000 borgtog en Keevy is verlede maand by die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein opgeneem.