Die grootste gebeurtenis in 2014 vir verskeie van die wêreld se voorste sportlui is die Statebondspele wat hierdie week in Glasgow, Skotland begin het.
Twee atlete van Kovsieland, Wayde van Niekerk en Johan Cronjé is die enigste Bloemfonteiners wat die nasionale span op die atletiekbaan in Glasgow gaan verteenwoordig.
Die 21-jarige Van Niekerk en die 32-jarige Cronjé het baie gemeen. Buiten dat albei oor die veggees van ‘n leeu beskik, het albei hulle hoërskooljare op die skoolbanke van Grey-kollege deurgebring. Cronjé is ‘n oud-Kovsiestudent en Van Niekerk Van Niekerk studeer tans by die Kovsies.
Albei is baanatlete met die verskil dat Cronjé in middelafstande (1500 m) spesialiseer en Van Niekerk in naelope (200 m en 400 m).
Cronjé het verlede jaar die Suid-Afrikaanse rekord in die 1500 m wat 20 jaar op die rekordboeke gepryk het verbeter en vanjaar die nasionale rekord in die myl sy eie gemaak. Dié rekord se ink het ook meer as 20 jaar verdof.
Van Niekerk het op sy beurt ook ‘n Suid-Afrikaanse rekord wat stof opgegaar het (400 m, 15 jaar) verbeter. En, hy het bykans die nasionale 200 m-rekord wat reeds 12 jaar oud is agter sy naam geskryf.
Hoe hierdie twee Bloemfonteiners in Glasgow gaan presteer bly egter ‘n raaiskoot, want kampioenskapbyeenkomste lewer meer as gereeld verassings op.
Kyk jy uitsluitlik na vanjaar se wêreldraglyste van beste vertonings, blyk Van Niekerk se kans op ‘n plek op die podium beter as dié van Cronjé.
Van Niekerk beklee tans die vyfde plek van beste vertonings in die 400 m op die genoemde ranglys. Van die vier atlete voor hom is slegs drie van Statebondlande. Vanjaar se voorste atleet in die wêreld én onder die Statebondlande, Kirani James (Granada) gaan moeilik geklop word in Glasgow.
Maar, die nommer twee en drie Statebondlande-atlete, Isaac Makwala (Botswana, 44,01) en Deon Lendore (Trinidad en Tabago, 43,36) kan hulle gereedmaak vir ‘n wilde aanslag komende van Van Niekerk. Hy het 44,38 (SA rekord) losgenael het op 14 Junie.
Moet hom ook nie afskryf vir ‘n moontlike podiumplek in die 200 m nie. Hoewel hy slegs 16de op die wêreldranglys in dié nommer is, is agt van die spoedvrate voor hom van Jamaika en slegs drie van die agt gaan klaarblyklik in Glasgow aantree. Dan bly daar slegs twee ander Statebondlande-atlete oor waarmee hy moet afreken wat bo hom op die ranglys verskyn.
Cronjé is huidiglik 17de op die genoemde ranglys. Daar is egter sewe Keniane wat vanjaar vinniger 1500 m-tye as Cronjé vermag het en gelukkig sal hier net drie van dié gevreesde langasems in Glasgow aantree. Die probleem is dat daar ook atlete van die Statebondlande, Marokko, Ethiopië en Nieu-Seeland bo hom verskyn.
Onthou egter dat Cronjé verlede jaar by die wêreldkampioenskap die bronsmedalje in die 1500 m gewen het en indien hy die eindrondte haal en laasgenoemde word takties gehardloop sal dit nie as ‘n verassing kom indien hy in Glasgow op die podium verskyn nie.
Die atletiek begin Sondag.







