Twee van die Knights se krieketsterre is later vandeesmaand op pad na die Verre Ooste waar hulle Suid-Afrika sal verteenwoordig by die Hongkong-sessetoernooi.
Die glanstoernooi by die Kowloon Krieketklub word vir die eerste keer sedert 2017 gespeel, en Suid-Afrika is die verdedigende kampioene aangesien hulle die laaste toernooi sewe jaar gelede gewen het.
Die twee veelsydige Knights-spelers, Aubrey Swanepoel en Jacques Snyman, is by ‘n sterk Suid-Afrikaanse sewemanspan ingesluit wat hul visier op ‘n sesde titel sal stel. Vir Swanepoel sal dit sy tweede besoek aan Hongkong wees aangesien hy deel was van die seĂ«vierende span in 2017. Nog ‘n oud-Knight, CornĂ© Dry, wat deesdae sy krieket in Amerika speel, was deel van daardie span gewees.
Die Protea-aanvangskolwer, Jacques Snyman, sal op sy beurt vir die eerste keer in Hongkong wees. Snyman, wat bekend is as een van die grootste mokermanne in Suid-Afrika, het ook die gewoonte om paaltjies vroeg plat te trek.
Albei die spelers se selfvertroue met die wilgerlat loop hoog ná Sondag se T20 Uitdaagreekssege teen die Titans in Centurion. Snyman het op SuperSport-park 44 lopies gemoker en Swanepoel het op sy beurt ‘n briljante 37 (nie uit nie) aangeteken.
Swanepoel, wie se broer Patrick Kruger vroeër vanjaar sy Proteas-buiging teen die Wes-Indiese Eilande gemaak het, het vir Bloemfontein Courant gesê om weer in Hongkong te speel maak hom opgewonde.
“Met die Hongkong-sessetoernooi … ek is baie opgewonde om terug te gaan. Ek was daar in 2017 toe ons gewen het,” sĂŞ Swanepoel.
“Ek sien daarna uit om soontoe te gaan om ons titel te verdedig. Ek dink Krieket SA het ‘n goeie en sterk span gekies vir die toernooi. Dit is ook ‘n baie goeie geleentheid om van te leer.
“Dit is ‘n kort toernooi en is baie pret. Dit word ook goed ondersteun. As ek na die ander spanne kyk, gaan dit sonder twyfel moeilik wees.
“Ek sien net daarna uit om my land in Hongkong te gaan verteenwoordig.”
Die Hongkong-sesse begin op 1 November 2024, en Suid-Afrika sal in die openingswedstryd hul veldtog teen die gasheer begin. – MORGAN PIEK






