Grey Kollege het weliswaar nié verlede naweek as gasheer die Nedbank-uitnodigingsokkertoernooi (seuns o.19) op sy tuisveld gewen nie, maar wat soos ’n paal bo water staan, is dat Jessie Seekoei, Grey se doelskieter, in die toekoms nog goud vir Suid-Afrikaanse sokker werd kan wees.
Die Norkem Park (Kemptonpark) is as die kampioen van die toernooi gekroon nadat hy Westville (Durban) met 2-1 geklop het.
Grey het, buiten vir ’n blaps (0-2) teen George Campbell, deurgaans puik sokker in die groepwedstryde gespeel en tot die kwarteindstryd deurgedring.
Die gasheer het Jeppe High (1-0) en The Glen (6-1) geklop en ook gewys dat hy nie trustaan vir groot name nie. Grey het die uiteindelike kampioen, Norkem Park met 5-2 in ’n groepwedstryd verslaan. Hulle het egter in die kwarteindstryd teen die naaswenners van die toernooi, Westville, (0-1) vasgeval.
Seekoei het vir Grey skitterspel opgedis en verdedigers met sy vlugvoetige aanvalle grys hare besorg.
Eer moet ook aan Seekoei se spanmaats gaan. Hulle het vir hom kanse geskep en veral Neo Helepe was puik.
Seekoei is as beste doelskieter van die toernooi aangewys. Hy het ook saam met twee ander spelers die meeste doele geskiet.
Grey het ná ’n uitskopstryd teen sy mede-Bloemfonteiners, Brebner (wat self skitterende sokker gespeel het), in die kwarteindstryd geseëvier.
Grey en Brebner, het onderskeidelik in die sewende en agtste plekke uit die 20 spanne geëindig, maar toe kom nóg ’n Bloemfonteinse span, Tsosoletso en verbeter daarop.
Dié span het as plaasvervanger deelgeneem en het met uithalerspel, bedagsaamheid en dissipline beïndruk.
Tsosoletso het ook tot die kwarteindronde deurgedring en met 6-5 in ’n titaniese uitskopstryd teen Durban High verloor. Hulle het algeheel sesde, die hoogste van al die Bloemfontein-skole, geëindig.
Eerbewyse vir beste spelers is:
Doelwagter: Neil Boshoff (Westville). Verdediger: Lonwabo Belfour (Victoria Park). Middelveldspeler: Mpho Mathegane (Norkem Park). Doelskieter: Jessie Seekoei (Grey).
Date:







