Young wen Winterberg Enduro-ren weer

0
625

Die 17-jarige Wade Young het sy tweede agtereenvolgende in die 38ste Castrol Winterberg Enduro-sege ingepalm toe hy dié ren – die vyfde en voorlaaste ronde van die 2013 Liquorland SA Nasionale Enduro-motorfietskampioenskap – in die Patensie-omgewing in die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap gewen het.
Young van die Husaberg Alfie Cox Racing-span het die vinnigste tye in al ses die spesiale sneltrajekte aangeteken.
Daarmee verseker dat sy naam in die rekordboeke van dié geskiedkundige byeenkoms sowel as vir die 2013-seisoen opgeneem is deur sy derde rensege vanjaar te behaal. Daarmee het hy ook die algehele titel vir 2013 verower met nog een ren wat afgehandel moet word.
Young het ook die E2 (200cc)-kampioenskapstitel vir die eerste keer gewen in slegs sy tweede jaar op seniorvlak.
Altus de Wet (Husqvarna Racing) het die E1 (Oopklas) die vierde agtereenvolgende ren gewen en was tweede algeheel, 154 punte (sekondes) ná Young met die 19-jarige Port Elizabeth-ryer, Timmy Young (Kargo Racing Yamaha) – daar is geen verwantskap met Wade Young nie – algeheel derde (tweede in E1). Hy was 102 punte agter De Wet.
Groot gewag is gemaak van die stryd tussen die verdedigende kampioen, William ‘Wild Will’ Gillitt (Span Liquorland Racing Yamaha), en Bruce May (Yamaha) in die senior klaskampioenskap. Nadat hulle vir die grootste gedeelte van die ren saam gejaag het, was dit Gillitt wat ’n driekuns behaal het deur May met ’n skrale 14 punte (sekondes) te klop. Dié stryd is egter nog nie verby nie en met net 11 punte wat hulle nou skei, sal hulle sake vir oulaas tydens die laaste enduro op 19 Oktober besleg.
Al ses deelnemers, wat die ren in die meesterklas aangedurf het, het dit voltooi. Denzil Torlage (Proudly Bidvest Yamaha) het gewen en daarmee die titel in die meesterklaskampioenskap vir die vyfde agtereenvolgende jaar opgeraap. – MSA