Tjokkies hou ope dag met karnaval-deurry

0
808
Die skoolhoof van Tjokkies, Neels Gunter.

Die Covid-19-pandemie het hierdie jaar alle instansies gedwing om nuwe maniere te vind om saam dinge te doen en spesiale geleenthede te vier. Die Primêre Skool Universitas in Bloemfontein, beter bekend as Tjokkies, het, anders as in die verlede, hul graad 1- ope dag in die buitelug gehou en deur middel van ‘n deurry-geleentheid nuwe leerders verwelkom. Vriendelike onderwysers en leerders wat soos narre aangetrek was, het voornemende Tjokkies by die hek ontvang.

Daar het ‘n heerlike karnavalatmosfeer geheers, wat ook een van Tjokkies se feesjaar-temas van die jaar was. Tjokkies is vanjaar 50 jaar oud.

Volgens die skoolhoof, Neels Gunter, is die gedagte van ‘n deurrydag gebore uit die kreatiewe denke van onderwysers nadat die Covid-19-pandemie nuwe planne genoodsaak het.

“Ek glo dat dit ‘n uiters suksesvolle dag was en het daar lekker interaksie met die nuwe ouers en die nuwe Tjokkies plaasgevind het; iets wat in die verlede effens ontbreek het. Met hierdie dag kon elke ouer en kind die nuwe onderwysers van aangesig tot aangesig ontmoet.”

Graad 1-departementshoof, Janah Posthumus, het aan Bloemfontein Courant gesê omdat 2020 so anders was, het hulle besluit dat hulle steeds ‘n ope dag wil hou en dit ‘n baie spesiale dag wil maak. “Die kinders het tred verloor met die realiteit; hulle besef nie dat hulle eintlik op pad is grootskool toe nie omdat die jaar soveel onderbrekings gehad het.”

Dit is ‘n dag wat die kleintjies nie sommer gou sal vergeet nie. Gunter sê dat die skool beslis soortgelyke dae in die toekoms sal oorweeg.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za