Verlede week het ons bietjie oor testamente gesels, en dat jy dalk diƩ Februarie weer aandag aan jou testament moet gee. Miskien het jy baie lanklaas na jou testament gekyk en het jou lewensomstandighede heelwat verander. Maak dus seker jou testament verwoord jou huidige wense.
Dit is wys om jou testament bietjie af te stof wanneer daar groot gebeurtenisse in jou lewe plaasvind. Groot gebeurtenisse is gewoonlik wanneer jy trou, of skei, wanneer daar ‘n babatjie arriveer, of dood in die familie is, wanneer jy eiendom koop of verkoop, ensomeer.
Probeer om nie vaag te wees in die bewoording van jou testament nie. Byvoorbeeld, jou testament lees dalk soos volg: “Ek bemaak my kontant aan. . .” Jy bedoel dalk met “kontant” alles wat vinnig in kontant omgeskep kan word soos aandele, effektetrusts, geld in die bank ensomeer, terwyl jou eksekuteur “kontant” slegs as geld in jou bankrekening mag interpreteer. Die wens wat jy uitgespreek het rondom “kontant” gaan dus (waarskynlik) nie volgens jou wense vererf nie.
Oppas ook om kinders se name in die testament te gebruik. Byvoorbeeld, ek bemaak my boedel in gelyke dele aan my kinders Piet Nel en Sannie Nel. Niks verkeerd met die bemaking nie, maar wat as daar nou ‘n derde kind bykom en jy vergeet om die kind se naam in die testament te vervat? In so geval sou dit beter gewees het om net soos volg die testament te bewoord: “Ek bemaak my boedel in gelyke dele aan my kinders.” Met diĆ© bewoording sal die derde kind outomaties ingesluit wees.
Maak seker jou erfgename is solvent. Krediteure kan beslag lĆŖ op insolvente erfgename se erfporsies. In só ‘n geval van insolvente erfgename, kan die gebruik van ‘n trust handig te pas kom.
Maak vroegtydig voorsiening vir alle belasting, koste en skuld wat uit jou boedel betaal moet word. Indien daar nie voldoende kontant in jou boedel gaan wees nie, kan dit beteken dat die eksekuteur van jou bates sal moet verkoop om in die belasting, koste en skuld te kan voorsien, wat weer beteken dat jou erfgename nie hul erfporsies gaan ontvang nie.
Daar is nog heelwat slaggate waarin jy kan trap wanneer dit by testament kom. Gesels dus maar met ‘n kundige op die gebied.
Horace Terry
[email protected]







