‘n Boer van Rosendal sal môre die eerste keer op die ouderdom van 78 haar graad kry. Miems Erasmus, wat in die jare 50 in standerd 8 (graad 10) in Senekal die skool verlaat het, sal môre in Bloemfontein deur Unisa haar diploma in Tuinbou en Landskapontwerp ontvang.
Volgens haar dogter, Celia Botes, was Erasmus oor die jare nog altyd baie pligsgetrou aan haar werk as vrou en ma.
“Hoewel sy na almal omgesien het, het sy tog nog altyd belang gestel in tuinmaak en blomme. Daar was altyd een of ander steggie in die kombuisvenster wat moes wortels kry,” het Botes aan Bloemfontein Courant verklap.
Na jare se geworstel oor die feit dat sy net graad 10 het, het Erasmus besluit om te gaan studeer.
Sy het by Unisa vrystelling gekry om op 70 te kon begin studeer aan haar diploma in Tuinbou en Landskapontwerp, sonder dat sy matriek gedoen het.
Botes sê die lekkerste vir haar is dat haar ma vanjaar op Moedersdag die eerste keer wakker gaan word as gegradueerde.
“Dit verg baie dissipline en dit is baie harde werk. Ek het lieflike medestudente by Unisa gehad wat ek altyd sal prys. Ek is so baie dankbaar dat hulle my gehelp het,” het Erasmus gesê.
Die gradeplegtigheid is môre om 14:00 in die Doxa Deo-ouditorium. – Jeretha Oosthuizen
[email protected]
Date:
Tannie Miems vang graad op 78
Miems Erasmus, 'n ma, ouma en oumagrootjie. Hier is sy saam een van haar agterkleinkinders, Anné.







