Street Store ‘n reuse sukses

0
1100
Die Street Store wat die afgelope naweek in verskeie dele van Bloemfontein plaasgevind het, het baie minderbevoorregte mense laat glimlag toe hulle self vir hul warm klere kon uitkies vir die winter wat op hande is. FOTO: Verskaf.

Die afgelope Saterdag (28/5) het 450 vrywilligers bymekaar gekom om nie net klere aan minderbevoorregtes te skenk nie, maar ook om na hul lewensverhale te luister. Sewe kerke het die Street Store gereël en die vrywilligers het by drie punte bymekaar gekom – Tswellang Skool in Heidedal, die Klipkerk in die middestad, en Anchor of Hope in Hamilton.

“Dit was ‘n wonderlike geleentheid om verskillende mense, organisasies, kerke, skole en besighede in die stad bymekaar te bring,” het Marnelle Prinsloo, die projekkoÖrdineerder gesê.

Die Street Store het vanjaar vir die sesde keer plaasgevind. Minderbevoorregte mense is eers iets te ete aangebied
voordat hulle met hul ‘winterklere-inkopies’ kon begin. Elke persoon kon vier items kies.

Die projek, wat elke Mei gehou word, het R38 000 se donasies ontvang en 20 000 kledingstukke is uitgedeel. Die Street Store laat elke persoon toe om vier kledingstukke te kies – ‘n broek, ‘n hemp, ‘n baadjie en ‘n paar skoene of ‘n mussie of ‘n serp.

Die groep Barmhartige Samaritane kon kies hoe hulle by die dag wou betrokke wees, hetsy om saam met ‘n persoon te loop en hulle te help om klere te kies en na haar of sy storie te luister, eetgoed uit te deel voor die inkopies begin, of klere uit te pak en seker te maak dat die rakke heeltyd vol is.

Vir Prinsloo was dit lekker om te sien hoe mense buite hul normale grense reik en na ander mense se stories luister. “Daar gebeur iets mooi wanneer jy tyd vat om’n ander ou se storie te hoor. Die hart met die Street Store is om mense se menswaardigheid te herstel en om lief te hê, net soos God ons liefhet.”

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za