Die ITEC Knights mokerman, Jacques Snyman, se goeie vorm met die kolf deur voort in Engeland waar hy tans klubkrieket vir Greenmount speel.
Snyman, wat nie net ‘n goeie kolwer is nie, maar ook ‘n gevaarlike draaibalbouler, het sopas die 1000-lopie kerf vir die seisoen verbygesteek – en dit sowat halfpad deur die seisoen.
Snyman het tot dusver in 18 wedstryde vir Greenmount gespeel en staan tans op 1092 lopies in 15 kolfbeurte.
Snyman het al vier honderdtalle gemoker, asook vier vyftigtalle.
In vier van sy beurte was hy nie uit nie, met ‘n hoogste telling van 269*. Snyman kolf tans teen 99.27 lopies per beurt.
Snyman se goeie vorm met die wilgerlat is beslis goeie nuus vir die Knights, wat vanaf aanstaande seisoen in Divisie 2 van plaaslike krieket sal meeding. As een van slegs twee Proteas wat nog vir die Vrystaat speel, sal hy sonder twyfel ‘n belangrike speler wees indien die span sy plek in Divisie 1 wil herower.
Snyman is ook een van slegs ses ervare spelers by die Knights, die groentjies sal beslis by sy ondervinding baat. Die ander Protea in die Vrystaatspan is die paaltjiewagter, Gihahn Cloete, wat tans in Ierland vir Glendermount speel. – MORGAN PIEK