Die 31ste Kloppers Marathon het Saterdag ‘n welkome terugkeer in Bloemfontein gemaak nadat dit vir ‘n geruime tyd nie plaasgevind het nie weens die Covid-19 pandemie.
Die amptelike Comrades Marathon kwalifiseerder het ‘n 42.2km marathon ingesluit sowel as ‘n 21.1km marathon, ‘n 10km padwedloop en ‘n 5km pretdraf.
Die marathon het vroegmôre in perfekte weer begin en in die mans-wedloop het Adriaan Simon in ‘n tyd van 2:45:14 koning gekraai. Malefetsane Nkhi het minder as ‘n minuut later oor die eindstreep gehardloop om die tweede plek te beklee in 2:46:18, terwyl Calvin Lidzhade derde geeindig het in 2:53.05.
Nicole van Tonder het die dames marathon in ‘n tyd van 3:36:32 gewen met Marina Kambanis wat slegs ‘n sekonde later tweede was in 3:36:33. Marilene Geldenhuys was derde in ‘n tyd van 3:39:49.
Die half-marathon vir mans was ‘n knap affêre met die eerste drie atlete wat in minder as ‘n minuut oor die eindstreep gehardloop het. Victor Makhebesela het die afstand in 1:09:01 voltooi om die wedloop te wen, met Jonas Soke tweede in 1:09:22, en Chabeli Nyedimane wat derde gekom het in ‘n tyd van 1:09:54.
Die gesoute langasem van Bloemfontein, Anna Moeketsi, het die dames-wedloop in 1:25:15 gewen, terwyl Mamananya Tsoanamatsie tweede was in 1:30:38, en Elandre Williams derde in 1:32:16.
Simon Sibeko het die 10km padwedloop in ‘n blitsige tyd van 30:03 gewen met Enocent Lesedi kort op sy hakke in 30:26 in tweede plek. Mavuso Lesedi het volgens die amptelike tye die wedloop in 31:40 voltooi in derde plek, met Thabang Masihetlo in 31:41 kort daarna.
Die vroue 10km padwedloop is deur Mamosebetsi Gajwane van Lesotho is ‘n haastige tyd van 34:51 gewen. Die blinde Paralimpiese silver- en bronsmedalje wenner, Louzanne Coetzee, het saam met haar gids, Estean Badenhorst, die roete in 39:16 voltooi vir die tweede plek, met Lizandre Mulder in ‘n tyd van 43:27.
‘n Totaal van 1105 atlete het aan die wedloop deelgeneem met 182 in die marathon, 500 in die halfmarathon, en 423 in die 10km padwedloop. – MORGAN PIEK







