Russel van Deventer, Bloemfonteinse brandweerman, het onlangs nog aan Bloemfontein Courant vertel hoe hy voorberei vir die Toughest Firefighter Alive-kompetisie wat op 10 en 11 Augustus gehou word.
Nou word sy deelname egter in die weegskaal nadat serebrale veneuse sinustrombose (SVST), ‘n uiters seldsame siektetoestand, by hom gediagnoseer is.
Sowat 10 dae gelede het Van Deventer groot geskrik toe hy sowat ‘n minuut lank alle gevoel in sy linkerarm verloor het. Hy het ook skielik hoofpyne ervaar. Hy is na ‘n hospitaal in Bloemfontein waar hy ‘n magnetiese resonansbeelding (MRI) ondergaan het en SVST by hom gediagnoseer is.
Volgens die dokters is die SVST veroorsaak deur ‘n faringitis-infeksie wat hy die vorige week opgedoen het. Hy is gehospitaliseer, maar intussen ontslaan en voel reeds perdfris en gesond.
Hy verduidelik dat die skielike terugslag nie sy planne in die wiele gaan ry nie. Hy gaan steeds deelneem aan die kompetisie wat in die Kaapstad plaasvind.
“Tensy iets onverwags gebeur, gaan ek beslis nog aan die Toughest Firefighter Alive-kompetisie deelneem. Ek mag weer oor sowat twee weke my oefening hervat,” het Van Deventer gesê. Dat hy weer ‘n bloedklont sal kry, is baie onwaarskynlik aangesien hy nou vir 18 maande op antistolmiddels is.
Hy vertel dat dit soveel erger kon gewees het. “My fiksheid en oefeninge het ‘n positiewe invloed op my prognose gehad.”
Van Deventer sal vanjaar die sesde keer aan dié kompetisie deelneem. Hy het een doel voor oë, en dit is om as wenner aangewys te word. Hy het reeds groot sukses behaal. Hy was in 2015 die enigste Vrystater wat deel was van die Suid-Afrikaanse span van agt lede wat in Duitsland deelgeneem het.
Meer as 100 brandweermanne gaan aan die nasionale kompetisie, wat hierdie jaar in Kaapstad gehou word, deelneem. Daar sal agt deelnemers uit Bloemfontein kom.
JERETHA OOSTHUIZEN
[email protected]







