Owen Kock
Bloemfontein. – “Die grootste ‘gawe’ ek ontvang het, is om as die kind van ‘n arm man groot te word.”
Dit is hoe Dries Weyers, gebore Andries Petrus, die Samaritaan wat mense met bouprobleme en skete aan hul huise help, homself aan Courant beskryf. Op 74-jarige ouderdom sien hy kans vir baie meer as wat die jonges nie eens aan wil dink nie.
Hy is reeds sedert 2008 besig om mense wie se huise besig is om die ‘gees te gee’ of wat probleme weens bouprobleme in en om die huis ervaar, te help.
Vir dié sagmoedige man wat doktor, lektor, onderwyser en eens predikant was, is sy vernuf en kennis van die boubedryf iets wat hy van kleintyd af bekom het.
“Ná skool het ek op die myn gewerk. Daarna is ek universiteit toe om vir predikant te studeer. Ek was 15 jaar in die bediening. Ek het toe ‘n onderwysloopbaan gevolg en onder meer bou-opleiding gegee. My liefde vir wat ek vandag doen het maar ontstaan omdat ek saam met my pa op die plaas goed gebou het,” voeg Weyers by.
Weyers is ‘n gebore KwaZulu-Nataller, ‘n Durbaniet om presies te wees. Dit is ook waar sy formele skoolopleiding begin het voor sy pa, wat ‘n spoorwegwerker was, Vryheid toe verplaas is. Die lewenspad het die gesin daarna na die Vaalharts-skema geneem waar sy pa in 1950 grond bekom het. Sy skoolloopbaan het hy op Warrenton voltooi voor hy in 1957 myn toe is.
Weyers sê toe hy destyds begin het met bou-opleidngklasse was die leerplan verskriklik deurmekaar en hy is aangesê om dit te herskryf. Die maatskappy wat verantwoordelik was vir die leerplanne het tot niet gegaan, wat meegebring het dat die boeke nooit gepubliseer is nie. Hy besit nog elke boek wat hy geskryf het.
Die geld, meen Weyers, kan baie meer wees vir die werk wat hy doen, maar hy is gou om te erken dat dit nie werklik oor die geld gaan nie. Dit gaan daaroor om mense te help, nie om hulle uit te buit nie.
“Kyk, in die reënmaande gaan dit maar bars met water wat werk belemmer, selfs onlangs het ek en my span gesukkel met ‘n projek waar ons uitgrawings gedoen het, nét om die volgende dag weer water uit te pomp.
“Projekte kan so kort as ‘n dag wees en dan is daar weer ander wat ons meer as nege weke besig hou, maar ek en my span geniet dit. My span weet presies wat gedoen moet word en ons hou gedurig mense vir wie ons help op die hoogte van hoe ons projekte vorder.”
Wat Weyers nog méér van ‘n Samaritaan maak, is die feit dat hy nog nooit enige deposito vir die werk hy moet doen, gevra het nie. Hy pas ook ook nie sy kwotasies aan soos hy werk nie, dít sal hy net doen in oorleg met die mense vir wie hy werk.
Vir onspanning sweis hy, maar as dit moet, kan hy ook koekbak en hy lag lekker terwyl hy dit vertel. Dit is waarom hy na homself as ‘n mixed grill verwys.
Hoe dit ook al sy, dié Samaritaan kan eintlik bekendstaan as die Robin Hood van die boubedryf. Dit wat hy die afgelope tyd vermag het, is ten goede van mense wat werklik in die knyp was.