Die oud-Greyleerling en Suid-Afrikaanse Olimpiese held, Ryk Neethling, het Vrydag (17/10) in samewerking met Rentech, ’n verskaffer van volhoubare, hernubare energie-oplossings, ’n sonkragstelsel aan Grey Kollege oorhandig. Hierdie stelsel maak die skool nou die ideale bestemming vir Afrika se toekomstige swemmers.
Met die oorhandiging het Neethling aan Bloemfontein Courant vertel waarom hy by die projek betrokke geraak het. “Ek is baie bevoorreg om in ’n posisie te wees om terug te gee. My swemloopbaan het in dié skool se swembad begin, waar ek baie ondersteuning ontvang het. Dit is hier waar ek duisende lengtes geswem het en my loopbaan begin het. Dit is my klein manier om iets terug te gee.”
Neethling sê die Bloemfontein-winters is verskriklik koud, en die verhittingstelsel sal swemmers in staat stel om regdeur die jaar te oefen. Terselfdertyd word die skool groot geld gespaar. “Ek dink dit raak al hoe moeiliker vir skole om ’n hoë standaard te handhaaf, met druk van alle kante af. Ek is trots om te kan help.”

Rentech se data wys dat die netwerkgekoppelde 104 kWp-stelsel daagliks tussen 500 kWh en 800 kWh opwek, wat die skool gemiddeld R30 000 per maand spaar. Die besparings sal jaarliks toeneem weens stygende elektrisiteitsheffings.
Neethling sê die topgehaltestelsel van R1 miljoen sal nuwe geleenthede skep vir die jonger geslag, wat nou kan droom om, soos hy, die wêreld te gaan sien. “Dit is ’n ingrypende bydrae om ’n verhittingstelsel hier te hê wat hulle in die winter vir swem en waterpolo kan benut.” Hy meen waterpolo bied ook vir die skool ’n geleentheid om uit te brei. “Ek dink dit is moontlik om swemmers van regoor Suid-Afrika en dalk die wêreld te lok. Hulle kan hul drome hier kom najaag en deure vir hulle oopmaak.”
Grey se adjunkhoof, Jannie Geldenhuys, sê die skool is trots om nuwe geleenthede vir watersport te bied. “In ons unieke weersomstandighede is ’n paar maande van die jaar uitdagend vir die swemmers, maar ons is seker hierdie stelsel gaan leerders beter geleenthede gee.”
Warren Hawkins
[email protected]







