Roodt ‘diep geraak’ deur benoeming

0
1053
Anton Roodt

Die bekende Bloemfonteinse argitek, Anton Roodt, sê die feit dat die beoordelaars gedink het sy roman, Weerlose Meganika, is goed genoeg om saam met die werke van SuidAfrika se beste skrywers beoordeel te word, het hom diep geraak.

Roodt is op die kortlys vir die kykNET-Rapportboekpryse vir Afrikaanse fiksie en nie-fiksie wat in 2020 verskyn het.

“Die benoeming was vir my ‘n verrassing omdat die roman, ondanks goeie resensies, nie juis die aandag getrek het van ander instellings wat literêre pryse toeken of selfs die breë publiek nie.”

Hy het gesê hulle sal seker teen 11 September weet wat die uitslag is. Intussen hoop hy dat hy tussen sy praktykwerk as argitek tyd sal kry om weer ‘n skryfprojek aan te pak.

Volgens Roodt is sy boek ‘n satiriese roman wat enkele jare in die toekoms in die mynstad Welkom afspeel. Dit is op die oppervlak ‘n speurverhaal oor ‘n gesteelde foto en ‘n vermiste engel. Op die spoor van dié vermiste artikels is die eksentrieke direkteur van die kultuurmuseum wat ingerig is op die terrein van ‘n uitgewerkte goudmyn.

“Dit word ‘n wedloop teen tyd, want die foto en die engel speel albei ‘n rol in die Versoeningsfees wat jaarliks op 16 Desember by die inryteater bo-op die mynhoop langs die museum opgevoer word. Maar die verhaal is ook ‘n mymering oor die mensdom se verhouding met hul medemens en veral dié wat as randfigure beskou word en die toenemende ingewikkelde verwantskap wat ons met tegnologie het. Met die lees van die roman moet ‘n mens nogal vashou om die draaie.”

“Maar ongeag wat gebeur, beskou ek myself nie soseer as een van die beste skrywers op die kortlys nie, maar wel die gelukkigste.”

Luidens ‘n persverklaring van kykNET, is daar vier boekpryse ten bedrae van altesaam R750 000 op die spel.

Sazly Hartzenberg  

sazly@mahareng.co.za