Robin kom kuier in Bloemfontein

0
2342
Die groep akteurs wat in Robin in the Hood te sien gaan wees.

Dit is weer dié tyd van die jaar wanneer Bloemfonteiners kan gereed maak vir een van Xander Steyn se gewilde, skreeusnaakse produksies.
Steyn, van Xander Art Production, pak vajaar die teaterproduksie, Robin in the Hood, aan, wat natuurlik gebaseer is op die gewilde verhaal van Robin Hood. “Dit handel oor die ou storie van Robin wat by ryk mense steel om vir die armes te gee,” vertel Steyn.
Steyn pas uiteraard altyd die storie aan en werk lekker humor by sy teks in as hy dit skryf. “Die storie verskil baie omdat ons ‘n local feel aan die verhaal gee. Ons werk ook plaaslike grappies en name in,” sê Steyn.
Dit neem Steyn sowat ses maande om so ‘n produksie aanmekaar te sit. “Ek bied twee keer per jaar ‘n produksies aan. Ons het so einde Januarie begin en ek neem enigiemand in wat ‘n hart vir die verhoog het. Geen oudisie word gehou nie en nuwe studente is middel-Junie en begin-Januarie welkom,” sê Steyn.
Wat die storielyn en karakter betref, wil Steyn nie veel verklap nie. “Hier wag baie verrassings! Robin het ‘n ma en twee broers. Sy ma is ‘n groot en luide karakter! Jy ontmoet ook nie vir Robin of Locksley nie maar wel vir Robin van Ladybrand,” vertel hy.
Net soos in die verlede, bestaan die produksie uit hoër- en laerskoolleerders wat die produksie opvoer.
Dit vind op 9 Junie in die Sand du Plessis-teater plaas. Die hoofvertoning is om 20:00. Die laerskool het drie vertonings wat om 09:00, 11:00 en 13:00 plaasvind en die hoërskoolgroep tree om 16:00 op. Kaartjies is beskikbaar by Pacofs teen R 100.

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za