Paartjie hardloop 100km vir vyfjarige Janique

0
1053

Stigters van The Pace Foundation, Yolandi en Dewald Fourie, gaan Vrydag 19 Mei 100.6km hardloop ten bate van die vyfjarige Janique Venter van Bloemfontein.

Janique is gediagnoseer met Neuroblastoom-kanker op ses maande. Volgens haar ma, Nadine Mukheibir, het sy laas week Maandag begin met nuwe behandeling en tot dusver gaan dit nog goed. Volgens die Fouries het hulle in 2009, nadat hul dogter verdrink het, besluit om The Pace Foundation te begin. “Ons het al ‘n paar kindertjies gehelp wat oor ons pad gekom het. Omdat ons hardloop, en nou weer Comrades toe gaan, het ons besluit om te hardloop vir geldinsameling. Radio Rosestad het met ons hande gevat vir die fondsinsameling – die rede dat die afstand ook 100,6 km is.”

Die paartjie het Janique op Facebook gesien en besluit om meer oor haar storie op te lees. “Ons is toe genader deur Mandie van Wyk en Preller Prokureurs. Hulle het ons gevra of ons nie dalk sou belangstel om te help met fondsinsamling vir klein Janique nie.”

Yolandi en Dewald het die roete vir die 100,6 km gekarteer volgens waar die besighede gesetel is wat skenkings aan hulle gegee het. “Ons het ’n hele klomp besighede gekry wat donasies gemaak het en volgens dit die roete beplan, die roete loop regoor Bloemfontein vanaf Bainsvlei na die noorde, die middestad, die suide en tot in Ferreira, waar ons dan by Radio Rosestad gaan eindig. Radio Rosestad sal deur die loop van die dag uitsaai terwyl ons hardloop.”

Mukheibir sê hierdie inisiatief beteken ontsettend baie vir hulle, veral dat mense hulle harte oopmaak om hulle dogtertjie te help. “Dis ongelooflik dat daar nog mense soos Dewald en Yolandi daar buite is, wat nog so ongelooflik baie vir ‘n mens sal doen. Daar is nie genoeg woorde om te kan beskryf hoe dankbaar ons is vir almal wat betrokke by die dag is nie, en wat hulle vir ons dogtertjie, Janique, gaan doen nie.”

Alhoewel die Fouries Vrydag die 100,6 km aanpak, kan mense steeds ná die wedloop skenkings maak. As jy betrokke wil raak of ‘n skenking wil maak, besoek The Pace Foundation se webwerf by www.thepacefoundation.co.za.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za