Die Hoër Meisieskool Oranje is op Vrydag 20 Januarie tydens die Vrystaatse Onderwysdepartement se Well Done Function as die beste Wiskunde- en Fisiese Wetenskapskool in die Vrystaat aangewys. Om vir hierdie toekenning in aanmerking te kom, moes die skool ‘n 100%-slaagsyfer in Wiskunde en Fisiese Wetenskap behaal.
Die skool het ‘n algehele gemiddeld van 68,22% vir Wiskunde en 63,1% vir Fisiese Wetenskap gehad.
Oranje se Wiskunde-departementshoof, Alta Roodt, het gesê sy voel verlig én tevrede om sulke goeie resultate van die leerders te sien ná ‘n vyf jaar lange proses wat hulle tot hierdie resultate gelei het. “Al die ure en ekstra tyd wat die onderwysers insit, saam met al die harde werk wat die leerders insit, is iets waarop ons baie trots is, want ons sien dat dit werklik vrugte afgewerp het. Die doel was nie net om die beste te wees nie, maar om al die leerders wat Wiskunde neem te sien slaag. Dit is nie net daarop gebaseer dat almal van hulle onderskeidings kry nie, maar om seker te maak dat hulle almal met meer as 50% slaag.”
Roodt het gesê sy is trots op die leerders vir al hul moeite. “Ons is trots op elke student, veral as ons kyk na die leerders wat daardie ekstra moeite moes doen om Wiskunde te slaag aangesien hulle dit moeiliker vind. Soos ons weet, kan nie elke student 90% en hoër vir Wiskunde kry nie, maar om die studente te sien wat dit moeiliker vind, wat daardie ekstra tyd ingesit het om te slaag, dít is iets waarop ons trots is,” het sy gesê.
Roodt het verduidelik dat hulle van graad 8 af met die leerders begin werk het om hierdie resultate te behaal. “As ‘n span het ons besluit dat ons die basiese beginsels moet regkry, reeds van graad 8 af. Dus, as ons probleme sien, begin ons daaraan werk om dié werk wat meer uitdagend vir die leerders kan wees te beklemtoon. Ons volg dan daardie vordering op om só voorsiening te maak vir elke student vorentoe,” het Roodt gesê.
“Vir die klas van 2022 – ek is baie trots op elkeen van julle, van diegene wat minder as 50% ontvang het tot die een wat 95% ontvang het. Baie geluk met al die harde werk en deursettingsvermoë,” het Roodt afgesluit.
Bonolo Moloi
bonolo@centralmediagroup.co.za