Anchor of Hope het weer eens ‘n beroep op gemeenskapslede gedoen om tot aksie oor te gaan en hul deel vir die gemeenskap te doen met hul kompetisie.
Gemeenskapslede is gevra om ‘n park, sypaadjie of ‘n ouetehuis in hul area te nomineer wat Anchor of Hope skoon kan maak of kan opknap. Gemeenskapslid Marius Müller het ‘n parkie in Noordhoek genomineer.

“Ek wil begin deur vir mnr. Boeta Swart van Anchor of Hope en vir Justine Fortuin van Bloemfontein Courant te bedank vir die parkie wat ek genomineer het – agter die woonstelblok op die hoek van Rotterdamstraat en Hilversumweg in Noordhoek – wat skoongemaak is,” sê Müller.
“Ek wil ook die span van die dag bedank, onder leiding van Martin en Gerhard, vir hulle harde werk met die sny van die gras en die optel van al die vullis. Die reënweer wat die middag saamgepak het, het die manne nie eens afgeskrik nie,” voeg hy by.
Müller voel dat ‘n projek soos hierdie ‘n vlam onder gemeenskapslede begin en hulle dwing om self voor hul eie huise te begin skoonmaak en opruim. “Ek voel die einddoel van al die afsonderlike projekte is om Bloemfontein skoner te kry en beter te laat lyk. En dit is ‘n proses wat nie op een slag regdeur Bloemfontein kan plaasvind nie. Dit begin by die ondersteuning van kleiner projekte soos dié. Daar is ook ‘n wanindruk onder Bloemfonteiners dat die skoonmaak en opruimingsessies verniet is, wat glad nie die realiteit is nie. Anchor of Hope begin die projek, maar dit is die gemeenskapslede se verantwoordelikheid om dit vol te hou, hetsy deur saam skoon te maak of maandeliks finansieel by te dra om sodoende die projekte te ondersteun,” sê Müller.
Hy sê ook dat slegs deur die samewerking van die gemeenskap met Anchor of Hope, kan al die afsonderlike projekte suksesvol en volhoubaar wees.
Neem kennis: Bloemfontein Courant wil gemeenskapslede bewus maak van die feit dat die opruimings op nominasies gegrond is. Daarom is die area wat vir die opruiming gekies word, slegs gebaseer op ‘n nominasie wat deur die publiek gemaak is. As jy jou area wil nomineer, kyk uit vir die volgende kompetisie op www.bloemfonteincourant.co.za in November.
Justine Fortuin
[email protected]










