Wanneer jou oupagrootjie skoolhoof was, jou oupa onderhoof, jou pa en ooms ook hul spore deur Grey Kollege getrap het, is Grey in jou bloed. Dit is die nalatenskap wat gelei het tot die begin van Drian Pienaar (graad 1) se skoolloopbaan.
Sy ma, Estine Pienaar (née Cronjé), werk boonop by die skool as deel van die alumni-kantoor, sy ouma’s en tannies het ook by die skool gewerk, of doen tans.
Estine se oupa, JL “Patat” Cronjé, het by Grey Kollege skoolgehou vanaf 1943 en het as skoolhoof gedien van 1969 tot 1979. Sy vrou, Betsie, het ook skoolgehou by Grey Primêr.

Die volgende generasie Cronjé’s was ook aan die skool verbonde. Tommie, Koos en Anita Cronjé het elkeen by Grey skoolgehou, terwyl Pieter Cronjé met nóg ’n juffrou van die skool getrou het.
Tommie, Estine se pa, was onderhoof van 1993 tot 2015, terwyl haar uiteindelike man, Duan Pienaar, en sy broer Wilmer daar skoolgegaan het. Duan het wel nooit in sy skoonpa se klas gesit nie.
“Grey is vir my baie spesiaal,” vertel Estine. “Ek het by die skool grootgeword as kind.” Sy het as leerling smiddae van Eunice af gestap na haar pa se kantoor. “Ek het gemaklik geraak op die skoolgronde.”
Verder vertel Estine: “Dit is vir my kosbaar om te dink dat my oupa jare terug hier was, en my pa en sy broers en hul sussie het hier grootgeword op die skoolgronde. En dis nou spesiaal dat ons dit nog kan deel.”

Haar man, Duan, vertel dat Grey vir hom ook ’n spesiale plek is. “Daar is min instansies in die wêreld waar jy die samehorigheid gaan kry wat jy by Grey Kollege het,” sê hy. “Dit is ’n eenheid wat saam met jou veg op die sportveld, en dan ook in die besigheidswêreld.”
“Die kroonpunt van hierdie skool is dat hy seuns vat en hulle leer hoe om mans te wees,” vertel hy verder.
Die Pienaars plaas geen druk op Drian om enigiets anders te wees as wat hy wil wees nie. “Hy moet nooit voel of daar druk op of verwagtinge van hom is nie,” sê sy ma. “Solank my kind gelukkig is, ’n Grey-gentleman is, en ’n man van God is, is ek tevrede,” voeg sy pa by.

Warren Hawkins







